DIE WARE OPENBARING - Studiegids Vol 1

  

DIE  WARE  OPENBARING

 

Antwoorde uit die Bybel

– aan wêreldgodsdienste

 

____________

 

Volume 1

Wat is die Ware Openbaring?

 

____________

 

Danie Haasbroek

 

STUDIEGIDS

 

 

Die werkboek, studiegids en PowerPoint-aanbieding

is beskikbaar op die webblad:

www.thetruerevelation.org

 

 

 

Die werkboek is die primêre bron van inligting.

Die studiegids verskaf bykomstige inligting.

 

 

 

VOLUME 1

 

 

Wat is die Ware Openbaring?

 

 

 


INHOUDSOPGAWE

 

 

1.

Hoe kan ons vir God ken?

4

2.

Wie het God bekend gemaak?

8

3.

Die Gesig van God

14

4.

Die Boodskapper van God het mens geword

23

5.

Jesus, die Boodskapper, het op die aarde geleef

29

6.

Waarom moes Jesus sterf?

34

7.

Van dood na heerlikheid

41

8.

Die Heilige Gees

44

9.

Die Christelike lewe

54

10.

Die Bybel

59

 

 

 

 

 

Alle Skrifverwysings is geneem uit die 1953-Vertaling

van die Bybel, tensy anders vermeld.

 

 

 

 

Kontakbesonderhede: 

 

INLEIDING

 

    Die Ware Openbaring is ’n wonderlike onderwerp. Dit handel oor dit wat God self bekend gemaak het. Elke mens moet hiervan weet en dit glo.

 

#       Hierdie studie word in vier volumes aangebied. Dit is:

 

Volume 1:    Wat is die Ware Openbaring?

Volume 2:    Hindoeïsme, Boeddhisme, Animisme, Judaïsme

Volume 3:    Islam

Volume 4:    Skepping of Evolusie?

 

#       Die doel waarvoor hierdie boeke geskryf is, is nie om wêreldgodsdienste of evolusie in diepte te ontleed nie, maar om die Ware Openbaring aan navolgers hiervan te verduidelik.

 

#       Volume 1 bied ’n oorsig oor die Ware Openbaring. As jy ’n breedvoeriger studie oor Jesus in die Ou Testament wil maak, kan jy Volume 3, hoofstuk 5 – 14, bestudeer.

 

#       Die Naam Jesus word deurgaans in hierdie boeke gebruik om dit makliker verstaanbaar te maak. Hy was in beide die Ou en Nuwe Testament aktief.

 

#       Vir almal wat ’n dieper studie van die Bybel wil maak, word die Notas voorsien aan die einde van elke hoofstuk.

 

#       Ons beveel aan dat jy jou eie Bybel aanskaf, want dit sal jou help om ’n dieper kennis van God en Sy openbaring te kan hê.

 

- - - - - - - - - - - - - -

 

Dr Ed Gross, ’n gesaghebbende op die gebied van wêreldgodsdienste, het ’n oorsig van agt wêreldgodsdienste geskryf. Dit is getitel: ’n Inleiding tot die groot wêreldgodsdienste, en is op die webblad www.truervn.com beskikbaar. Dit is geskryf met die doel om die studie van Volume 2 en 3 te ondersteun. Hy word opreg vir sy bydrae bedank.

 

- - - - - - - - - - - - - -

 

 

1.   Hoe kan ons vir God ken?

 

 

    Miskien het jy al nagedink oor vrae soos:

             Is daar ’n God?

             Waar kom die skepping vandaan?

             Waarom leef ons?

 

    Deur die eeue heen het mense al op hulle eie probeer om God te vind. Sommige probeer om Hom in die natuur te vind. Ander probeer om Hom te vind in die sterre, die son en maan – of in geleerdes se geskrifte.

 

    Wat van jou?

    In jou verlange om God te vind, het jy Hom dalk begin soek in bome, klippe en diere – of in die son, maan en sterre?

Miskien het jy toe verder gegaan en hierdie voorwerpe begin aanbid asof God in hulle is. Jy aanbid miskien hierdie voorwerpe omdat jy dink dat hulle self gode is.

             Dalk het jy al self voorwerpe van klip of ander materiaal gemaak om te           aanbid.

             Aanbid jy dit elke dag?

             Hoop jy om die guns van die gode op hierdie manier te wen?

 

    Baie mense glo dat klippe, bome en ander dinge in die natuur, self gode is. Dit kan mense laat dink dat daar nie ’n Skepper is wat alles geskep het nie, omdat hierdie voorwerpe as goddelik beskou word en deur hul eie krag ontstaan het.

    Tog het elkeen wat so dink ’n behoefte – en probeer om God te vind op sy, of haar, eie manier.

 

    Dit is belangrik dat ’n mens duidelikheid moet kry oor vrae soos:

·       Bestaan die skepping uit gode?

·       Is dit waar dat berge, voëls, bome, ape en ander dinge self gode is?

·       …en wat van skilderye van gode?

·       Hoe kan ’n mens die ware God vind?

 

    Eers as jy die ware God leer ken, sal jy besef dat Hy baie groter en wonderliker is as wat jy ooit kon dink.

 

 

Daar moet ’n God wees

 

    Dit is waar dat God bestaan. As jy na die natuur en al die prag daarin kyk, behoort jy tot die besef te kom dat daar ’n God moet wees. Jy moet besef dat ’n almagtige Wese dit alles

    Elke mens moet die Skepper, wat die skepping en al die prag daarin gemaak het, leer ken. Die skepping is ’n groot werk van God. Mense sal nooit alles daarin kan ontdek nie.

    Dit is belangrik dat jy sal weet hoe die ware God Homself aan mense openbaar. Hy is ’n lewende God en Hy wil hê dat elke mens Hom persoonlik moet leer ken.

v As jy jou hart vir Hom oopmaak, sal jou lewe vol blydskap wees, nou en vir altyd.

v Ja, Hy wil hê dat jy Hom moet leer ken, diep in jou hart.

v Hy wil hê dat jy die waarheid oor Hom moet weet.

 

    Daar is nog ’n rede waarom ons weet dat daar ’n God moet wees. Dit is dat elke mens ’n gewete het. Diep binne-in elke mens is daar die bewustheid dat sekere dinge reg en ander verkeerd is. Dink byvoorbeeld aan sekere dinge waaraan jy dink of wat jy doen. Jy kan dit ’n stem binne-in jou noem wat jou waarsku dat ’n gedagte of daad reg of verkeerd is. Dit laat jou besef dat daar uiteindelik ’n oordeelsdag gaan wees, waartydens God elke persoon se lewe sal oordeel. Dit alleen behoort reeds ’n mens te dring om te besef dat God bestaan.

 

Ø  Die wonderlike feit is dat God leef en dat Hy Homself in waarheid aan elke mens wil bekend maak. Hy wil hê dat jy Hom moet leer ken! Hy wil nie hê dat jy net ’n idee oor Hom sal hê nie, wat jy kry deur na die skepping te kyk of na jou gewete te luister. Hy wil hê dat jy Hom sal leer ken soos Hy werklik is!

 

    Hoe kan ’n mens vir God reg leer ken? Die openbaring van wie God regtig is, word die Ware Openbaring genoem. Dit word beskryf in ’n Boek wat die Bybel genoem word. Uit die Bybel leer ons wie God werklik is. Die menslike verstand is nie uit sy eie in staat om God reg te leer ken nie.

 

Hoe het die skepping ontstaan?

 

    Ons is so gewoond aan die son, maan, sterre en die hele skepping wat ons rondom ons sien. Daar is soveel prag in dit alles, soveel geure in die blomme en rose, soveel dinge om te geniet.

    Deur die eeue heen het baie mense probeer om te beskryf hoe hulle dink die skepping ontstaan het. Miskien het jy al sommige van hierdie beskrywings gelees. Tog wag daar goeie nuus vir jou. Nou gaan jy leer wie alles werklik geskep het. In die Ware Openbaring wat God gegee het, word dit presies beskryf.

 

    Nou gaan jy iets wonderliks leer. God se Spreekbuis (of Woordvoerder) wat self God is, was die Een wat die bevel gegee het dat die skepping tot stand moet kom. Alles wat God sê of enige opdrag wat Hy gee, gee Hy deur Sy Spreekbuis. Ook doen God alles wat Hy wil doen, deur Sy Spreekbuis.

    Daarom, toe God die skepping tot stand gebring het, het Sy Spreekbuis met almagtige krag die bevel gegee. Voor daardie oomblik was daar nie ’n skepping nie – geen son, maan, sterre of aarde nie. Van daardie oomblik af bestaan en blom die skepping. God se Spreekbuis het ook vir die skepping gesorg en Hy doen dit nog steeds. Hy het van die begin af daaroor geheers en Hy sal dit ook vir altyd doen.

 

    Al hierdie dinge is ’n bewys dat die Spreekbuis van God inderdaad ’n wonderlike

Goddelike Persoon is. Hy het die skepping uit niks geskep nie. Selfs op hierdie oomblik dra Hy die welsyn van mense op die hart en wil Hy hulle herstel. Hy is almagtig en tog ook nederig. Hy was bereid om aan mense op aarde te verskyn.

 

Ø  Dit moet wonderlike nuus vir jou wees:

Die Spreker (Woord) van God het van die begin af deel gehad in die beplanning van die skepping.

Hy het die skepping gemaak.

Hy wou hê dat jy moes lewe.

Hy wou hê dat jy Hom moes leer ken en in Hom glo.

 

    Jy wil seker nou graag baie meer van die Spreker van God te weet. In die volgende hoofstukke gaan jy meer oor Hom ontdek.

- - - - - - - - - - - - - -

 

Gids vir die Bybelstudieleier

 

Inleiding:  Vra vrae soos die volgende:

o   Hoe het jy bewus geword van God se bestaan? Noem ’n paar voorbeelde.

o   Geniet jy die prag in die natuur? Wat beteken dit vir jou?

o   Het jy al enigiets van God geleer deur na die natuur te kyk?

 

Doel van hierdie studie:  Om te ontdek hoe God Homself aan ons bekend maak.

 

Lees:  Psalm 19:1-12

 

1.      Wat is die eerste manier om God te leer ken? Die natuur help jou om te besef dat daar ’n God moet wees (Ps 19:1-7; Rom 1:20).

            In Psalm 19:1-7 sing koning Dawid oor die manier waarop God Homself in die   

      natuur (die skepping, die heelal) openbaar, deurdat dag en nag mekaar            opvolg.

            Romeine 1:20 sê dat elkeen, deur na die natuur te kyk, die geleentheid en  

            verantwoordelikheid het om te besef dat daar ’n God moet wees.

            Daar moet ’n Skepper wees wat dit geskep het en alles onderhou.

            Die Skepper moet almagtig wees.

            Die Skepper moet dus waarlik God wees.

Ø  As God vir die natuur sorg (en vir die hele skepping), wie sorg dan vir jou?

 

2.      Die tweede manier waardeur elke mens behoort te weet dat daar ’n God is, is  

deur die gewete (Rom 2:15) wat jou waarsku om nie verkeerde dinge te doen nie. Dit dui ook aan dat daar uiteindelik ’n oordeelsdag sal wees, wanneer die allerhoogste Regter elkeen se dade sal oordeel. 

Ø  Hoe het jou gewete jou al van God bewus gemaak weens dit wat jy gedoen het?   (Noem voorbeelde)

 

3.    Slegs deur die derde manier kan ons vir God regtig leer ken.

     Ps 19:8-12 praat van die manier waarop God Homself deur Sy Woord, die

     Bybel, openbaar. Dit is die Ware Openbaring.

     Wat leer Ps 19:8-12 ons van die Bybel? Skryf ’n paar waarhede neer.

       Soek minstens vyf name waarmee die Woord van God beskryf word (in vers 8, 9 en10).

Ø  Hoe openbaar God Homself aan jou deur die Bybel?

Ø  Noem ’n paar teksverse waardeur God al met jou gepraat het.

 

4.    Soek die antwoord in die hoofstuk hierbo.

 

5.   God moet verheerlik en geprys word. Mense moet Hom leer ken en gered           word.

 

6.    Gee tyd vir bespreking.

- - - - - - - - - - - - - -

Notas oor hierdie hoofstuk

 

Koning Dawid het graag oor die natuur gesing (Ps 104:1-35).

Hy het ook graag oor die Ware Openbaring, die Bybel, gesing (Ps 119:1-176).

Die Ware Openbaring is ewig (Ps 119:89, 52; Ef 3:9-11; Tit 1:2; Op 14:6).

God het die hemel en die aarde geskep (Gen 1:1; Ps 104:30) en deur die krag van die Heilige Gees logiese vorm daaraan gegee (Gen 1:2; Psalm 104:30).

Die skepping behoort aan God (Eks 9:29; 19:5; Ps 24:1).

Hy het die skepping beplan (Gen 1:26; Ps 33:11).

Die woord Ons, in Genesis 1:26, dui daarop dat God, die Skepper, uit meer as een Persoon bestaan. Hy is egter één God, soos uit die woord Hy in Genesis 1:27 blyk (en vergelyk Joh 10:30; 1 Kor 8:6).

God het die skepping geskep deur ’n bevel te gee deur Sy Spreekbuis, Jesus (Joh 1:1-3, 10; Ef 3:9; Ps 33:6, 9).

 

Let wel:  In sommige Bybelvertalings word in Psalm 33:6 die woorde Woord en Gees (of Asem) met hoofletters geskryf, wat op Jesus en die Heilige Gees dui.

 

God se Spreker, Jesus, het geskep en Hy onderhou steeds die skepping en heers daaroor (Kol 1:15-17; Heb 1:1-3). Let op dat in Kolossense 1:15, die woord Eersgeborene op Jesus se hoë posisie bo die skepping dui (vergelyk Ps 89:28). Jesus is nie deel van die skepping nie omdat Hy self nie geskep is nie. Hy bestaan van altyd af, saam met die Vader en die Heilige Gees. Hy is God (Joh 1:1).

Tog probeer baie mense om op hulle eie maniere vir God te vind (Handelinge 17:22-23).

Die ware God woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie, want Hy is die Skepper (Hand 17:24-29).

Sommige mense probeer om God te vind deur die sterre te aanbid (Hand 14:11-15) en ander aanbid beelde van Hom (Jes 44:9-20; Rom 1:23, 25; 1 Kor 8:4-6).

Die ware God woon egter in die hoogste hemele (1 Kon 8:27; Jes 66:1; Jer 23:24).

God wil hê dat ons Hom moet ken (Hos 6:3).

 

 

 

 

 

 

 

STUDIEGIDS         2.   Wie het God bekend gemaak?

 

 

Wil jy graag meer oor God weet?

Die ware God bestaan werklik en Hy is wonderlik.

Is dit jou grootste wens om Hom te leer ken?

God wil regtig hê dat jy Hom moet ken!

 

    God is te wonderlik dat dit vir ’n mens moontlik kan wees om alles van Hom te weet. Tog het God Homself geopenbaar. Hy het aan ons die Ware Openbaring, die Bybel, gegee. Deur die Bybel kan ons vir God werklik leer ken.

 

    Hier volg ’n paar van Sy kenmerke:

 

Ø  God is ewig. Dit beteken Hy het geen begin nie. Hy bestaan van altyd af en sal vir altyd (vir ewig) bestaan.

Ø  God is absoluut volmaak. Dit beteken dat Hy nooit verander nie. God noem Homself: “Ek Is Wat Ek Is”. Dit beteken dat Hy vir ewig is wie Hy is.

Ø  God is heilig. Hy is absoluut volmaak heilig. Dit beteken Hy het nie sonde nie. Hy het nooit iets verkeerds gedoen of gedink nie. (“Heilig” beteken: om afgesonder vir God te wees.)

Ø  God is liefde. Hy weet alles van jou af en het jou nogtans volkome lief.

Ø  God is almagtig. Hy kan enigiets doen (behalwe om te sondig). Hy het byvoorbeeld in een oomblik die skepping tot stand gebring, uit niks (Heb 11:3).

Ø  God is alomteenwoordig. Dit beteken Hy is oral teenwoordig. Deur Sy Gees kan Hy altyd oral wees.

Ø  God is alwetend. Hy weet alles. Hy ken selfs al jou gedagtes.

Ø  God kan nie ’n fout maak nie, omdat Hy alles weet. Dit beteken ook dat Hy alles in absolute wysheid doen. Hy het volkome kennis en dus ook volkome wysheid. In wysheid het Hy die heelal meesterlik geskep. Alles in die skepping skakel ineen en werk saam.

 

v Dit moet vir jou ’n groot troos wees dat God alles weet.

Hy ken jou behoeftes en Hy sorg vir jou.

Dit moet ’n vreugde wees om God te ken.

Wil jy Hom graag beter leer ken?

 

’n Verskyning van die Boodskapper van God

 

    Die heilige en almagtige God wil hê dat mense Hom moet leer ken. Dit was Sy begeerte en plan van die begin af.

 

    Jy kan bly wees hieroor: Die enigste ware God het Homself in die verlede aan baie mense bekend gestel. Dit het oor ’n lang tydperk gebeur en die Bybel bevat noukeurige inligting hieroor.

    Dit sal vir jou interessant wees om te weet hoe God Homself geopenbaar het. Die waarheid is dat God ’n Spreekbuis, Woordvoerder, of Boodskapper het wat Hy na die aarde gestuur het om Sy boodskappe na mense toe te bring. Deur hierdie Boodskapper te leer ken, het mense vir God leer ken. Die rede hiervoor is dat hierdie Boodskapper self God is!

 

    Die volgende verhaal handel oor wonderlike en ware gebeurtenisse in die wêreldgeskiedenis – en dit staan neergeskryf in die Bybel, die Woord van God.

    God het ’n bekende man, Moses, beveel om op te klim en Hom op die Sinaiberg te ontmoet. Dit was die Boodskapper (of Engel) van God vir wie Moses op die berg moes ontmoet. (Die woord Engel beteken Boodskapper.)

 

    Om God te ontmoet, moet ’n onvergeetlike ervaring wees. Gedurende die dae voordat Moses teen die berg opgeklim het, het die berg geskud weens God se teenwoordigheid. Dit was die Boodskapper van God wat verskyn het, in die wolke en vuur wat die berg bedek het. Sy stem kon kilometers ver gehoor word. Die Israeliete het toe al ’n paar miljoen getel en elkeen kon die stem van God se Boodskapper hoor. Hulle het so bang geword dat hulle wou hê Moses moes namens hulle met Hom praat. Die Boodskapper het Moses toe geroep om op die berg te klim om Hom daar te ontmoet.

 

    Moses het toe teen die berg uitgeklim. Hy was vergesel deur ’n jong man met die naam Josua. Hulle het die voorreg gehad om ’n naby ontmoeting met God se Boodskapper te hê. Vir 40 dae en nagte het Hy met hulle gepraat en hulle onderrig. Die Boodskapper het aan hulle God se wet gegee en Hy het selfs die Tien Gebooie met Sy vinger op kliptafels neergeskryf.

    Gedurende hierdie 40 dae en nagte het Moses en Josua geen kos of water nodig gehad nie – en ons kan aanneem ook geen rus nie. Die teenwoordigheid van God se Boodskapper was so genoegsaam en verfrissend dat hulle daarsonder kon klaarkom.

 

    Later het Moses alleen die berg opgeklim en nog 40 dae saam met God se Boodskapper deurgebring. Toe Moses van die berg afklim, het sy gesig geblink weens die heerlikheid en glans van die Boodskapper van God wat hy op die berg ontmoet het. Hoe oorstelp moes Moses nie gewees het nie! Hy het die Boodskapper van God goed leer ken.

    Die Boodskapper het ook by ander geleenthede aan hom verskyn. Die Bybel sê dat hulle in die tent van samekoms ontmoet het. Daar het Hy met Moses van aangesig tot aangesig gepraat, soos ’n man met sy vriend praat (Eks 33:11). Ook vir hierdie ontmoetings het die Boodskapper in ’n wolk neergedaal terwyl die miljoene Israeliete toegekyk het. Hulle het neergeval en Hom aanbid.

 

Ø  Hoe kan ons in menslike woorde die wonder van die Boodskapper van God beskryf?

Hoe kan ’n mens anders as om oorstelp te wees oor Sy verskynings?

Ons wil maar net meer en meer van Hom leer!

 

    Deur meer oor die Boodskapper te leer, leer ons ook meer oor God, die Een wat Sy Boodskapper gestuur het om op aarde te verskyn. So leer ’n mens vir God werklik ken.

    Die Ware Openbaring is dit wat God self geopenbaar het – en dit is dus nie menslike idees nie.

 

Ø  Hoe weet ons dat die verskyning van die Boodskapper van God werklik plaasgevind het?  Dit staan opgeteken in die Bybel, wat God se Woord is. Ook die boodskappe wat die Boodskapper aan mense gegee het, is in die Bybel opgeteken.

Ø  Jy mag nie daaraan twyfel dat die openbaring wat Hy gegee het die waarheid is nie.

Ø  Dit is werklik die Ware Openbaring!

 

Die Boodskapper word Jesus genoem

 

    Nou gaan jy iets wonderliks ontdek. Die Boodskapper was Jesus. Hoe weet ons dit? Kyk na die volgende:

 

    Die Bybel bestaan uit twee dele. In die eerste deel van die Bybel, die Ou Testament, het die Boodskapper God se boodskappe aan die mense gebring. In die tweede deel van die Bybel, die Nuwe Testament, word Hy die Woord genoem.

 

    Die Name Boodskapper en Woord dra die gedagte oor dat hierdie Goddelike Persoon altyd die taak gehad het om die boodskappe, of woorde, van God na mense toe te bring. Hierdie Name het dieselfde betekenis en verwys na dieselfde Goddelike Persoon.

    Dit is duidelik dat die Goddelike Persoon wat van die begin af die boodskappe, of woorde, van God na mense toe gebring het, werklik Jesus Christus ons Verlosser is. Hy was van altyd af God se Woordvoerder en Openbaarmaker – en Hy sal dit altyd wees. Hy was van die begin af gedurig besig om hierdie taak te verrig.

   Dit is duidelik dat die Een wat aan Moses op die Sinaiberg verskyn het (soos in hierdie hoofstuk beskryf) beslis Jesus was.

 

    Om oor na te dink:

Ø  Jesus, die Woord, was van altyd af by Sy Stuurder (Sy Vader).

Ø  Die Woord is self God.

Ø  Deur die Woord is die skepping tot stand gebring.

Ø  Die Woord is die Lewe en die Lig – en Hy was dit ook vir die Ou Testamentiese mense.

 

    Hierdie waarhede kom in die volgende teksverse na vore:

 

 

In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord

was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom

ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan

het nie. In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.

Johannes 1:1-4

 

Samevatting:

    Jesus is self die Ware Openbaring. Die rede hiervoor is: Hy is beide die Boodskapper en die Boodskap van God. Hy is byvoorbeeld die Boodskap van verlossing in beide die Ou en Nuwe Testament (lees byvoorbeeld Genesis 3:15 en Jesaja 53).

    Die Bybel word ook die Ware Openbaring genoem. Die rede hiervoor is dat die Bybel die boodskappe, of woorde, bevat wat Hy gegee het.

    Hierdie waarhede vorm die kern van hierdie boek en dit is daarom ook die titel van hierdie boek.

§  Die volgende hoofstuk handel verder oor Jesus se taak, naamlik om God aan mense bekend te maak.

Gids vir die Bybelstudieleier

 

Inleiding:  Julle kan die volgende vrae oordink:

Ø  Dink julle dit is moontlik om die ware God te kan ken?  Gee redes vir julle antwoord.

Ø  Is die ware God regtig al bekend gestel? Hoe het dit gebeur?

 

Lees:  Eksodus 3:1-6, 14

1.      Hoe het Moses vir God leer ken?  Die Boodskapper (Engel) van God het aan hom verskyn.

2.    Sy Naam is:  EK IS WAT EK IS.

       Hierdie Naam beteken dat die Engel (en dus God self) nooit verander nie. Hy is absoluut volmaak in heiligheid, waarheid, liefde, wysheid, krag ens.

       Let op dat in Eksodus 3:1-6, 14, die Name van die Engel van God afwisselend gebruik word, dus as wisselterme (variante): Hy word ook HERE en God genoem.

3.   Die Goddelike Persoon wat in die wolk- en vuurkolom verskyn het gedurende die Israeliete se reis deur die woestyn, en wat ook God se wet aan hulle gegee het, is die Engel van God – en  Hy is Jesus (Eks 3:1-6, 14; lees ook Eks 23:20, 23 en Hand 7:30, 35, 38 – lees dit ook in die Amplified Bible).

       Hoe het die Israeliete dus vir God leer ken? Hulle het die Engel van God gevolg en gehoor wat Hy hulle geleer en beveel het.

4.    Jesus wat aan hulle die wet van God gegee het, word ook die Engel van die verbond genoem (Mal 3:1). Die wet word ook die verbond genoem (Deut 4:12-13). Dus was dit Jesus wat op die Sinaiberg verskyn het en van daar af met die volk gepraat het (Eksodus 19).

5.    Die Engel is self God en Here – en daarom is Hy volmaak in heiligheid, kennis ens. Hy weet alles van God – en ook alles van jou.

6.   Jesus is die waarheid (Joh 14:6). Hy is die ware God (1 Joh 5:20). Jesus praat die waarheid (Joh 18:37; lees ook Joh 1:17; 17:17). Net in Hom word ewige waarheid gevind.

7.    Gee tyd vir bespreking.

8.   Die waarheid sal julle vrymaak (Joh 8:32, 36) beteken: om vry te wees van valsheid, om in die Ware Openbaring te glo, om in Jesus en in die Bybel te glo, om seker te wees van wat nog kom.

       Wat beteken dit prakties?  (Gee tyd vir bespreking)

 

- - - - - - - - - - - - - -

 

Notas oor hierdie hoofstuk

 

God is ewig (Ps 90:2), heilig (Jes 6:3; Op 4:8), liefde (1 Joh 4:8, 16), alwetend (Ps 139:1-6, 13-18; 147:5; Joh 2:25; 1 Tim 1:17), alomteenwoordig (Ps 139:7-12), almagtig (Gen 1:1, 17:1; Luk 1:37) en groot bo almal (Ps 145:3; 147:5).

God het voorkennis (Hand 2:23; Rom 8:29; 1 Pet 1:2) wat beteken dat Hy van altyd af alles vooraf weet – en Sy raad beteken dat Hy van altyd af planne gemaak het wat Hy sal deurvoer (Ps 33:11; Luk 22:22; Hand 2:23).

 

Nota:   In die teksverwysings wat hierna volg, is die woord “Engel” (of Boodskapper)        met ’n hoofletter geskryf, in byvoorbeeld die Afrikaanse 1953-Bybelvertaling,           die King James Version, Modern Language Bible, Amplified Bible, Living Bible          en The Scriptures (’n Bybelvertaling van die Messiaanse Jode). Die voetnota  onder Genesis 16, in die Amplified Bible, ondersteun ook hierdie siening.

 

Die Engel (Boodskapper) van God het gesê Sy Naam is: EK IS WAT EK IS (Eks 3:2, 14). Die Ek is-uitsprake in die Johannes-evangelie sluit direk hierby aan, byvoorbeeld:  Ek is die brood van die lewe, en:  Ek is die lig van die wêreld. (Lees: Joh 6:35; 9:5; 10:9,11; 11:25; 14:6; 15:1).

Die Name van die Engel van God word afwisselend gebruik (vergelyk Gen 22:11-15; Eks 3:1-6). Dit is dus duidelik dat Hy die Een is wat altyd aan mense verskyn het, dus ook reeds aan Adam en Eva (Gen 3:8).

Die Naam Engel, met ’n hoofletter geskryf en wat dus op Jesus dui, kom ongeveer 60 keer voor in die Ou Testament. Dit kom in vyf vorms voor, naamlik: Engel van God, Engel van die HERE, Engel van Sy aangesig, Engel van die verbond, en net Engel.

 

Die Boodskapper (of Engel) van God het aan Moses verskyn (Eks 3:1-6; Hand 7:30-38) en het die Israeliete uit Egipte gelei (Eks 14:19, 24; 23:20, 23; Rig 2:1) en hulle ook gelei gedurende die trek deur die woestyn wat ongeveer 40 jaar lank geduur het. Dit was dus ook die Boodskapper van God wat aan Moses verskyn het gedurende die twee besoeke van 40 dae elk op die berg (Eks 24:13-18 en 34:1-35).

Die Boodskapper van God het ook die Tien Gebooie en al die wette gegee (Eks 19:9-20) en dit word die woorde van die verbond of wet genoem (Deut 4:12-13) en dus is die wetboek ook die verbondsboek (2 Kon 22:11; 23:21). Hy is dus ook die Boodskapper (of

Engel) van die verbond, wat na die aarde toe sou kom (Mal 3:1). Johannes die Doper was die boodskapper, die Elia, wat Jesus se openbare bediening aangekondig het (Mal 3:1; 4:5; Matt 11:10, 13-14).

Dit was ook Jesus, die Boodskapper en Woordvoerder van God, wat vir Moses in die tent van samekoms ontmoet het (Eks 33:7-11).

Jesus was ook die Een wat vanuit die tabernakel (die tent van samekoms – Lev 1:1) en van die versoendeksel af gespreek het (Eks 25:22; Num 7:89).

Jesus en Moses het van aangesig tot aangesig (Engels:  face to face) met mekaar gepraat (Eks 33:11; Num 12:8; Deut 34:10; en vergelyk Gen 32:30).

 

Selfs koning Dawid het van God se Boodskapper gesing (Ps 34:8; 35:5-6).

Jesus se taak as Boodskapper word bevestig deur ’n ander Naam wat Hy het, naamlik Profeet (Deut 18:15-19; Joh 6:14; Han 3:22;  7:37).

God se Boodskapper is self God (vergelyk Sy Name in Gen 22:11-16; Eks 3:1-6 – en verder het Hy beveel dat Hy aanbid moet word: Eks 3:5; Jos 5:13-15. En: God se Naam is in die Engel: Eks 23:21).

Die Engel van God is die Almagtige (Gen 48:3; vergelyk Gen 28:12-13, 19; Hos 12:5) saam met God die Vader en die Heilige Gees.

Jesus word die Woord genoem (Joh 1:1-3) en die Woord is later as mens gebore (Joh 1:14).

Nota:  Beide Jesus en die Bybel word hier die Ware Openbaring genoem. Beide word ook die Woord van God genoem. Jesus is die Woord van God wat mens geword word het en die Bybel is die Woord van God wat neergeskryf is.

 

   Jesus het gedoen wat Hy Sy Vader sien doen het (Joh 3:32; 5:19-20; 8:38) en Hy het net gesê wat Hy Sy Vader hoor sê het (Joh 7:16; 8:26, 28). Dit is ook waar van die Ou Testament.

   In Jesus is al die skatte van wysheid en kennis verborge en in Hom woon die volheid van God (Kol 2:3, 9).

   Die Evangelie (die Goeie Nuus) is ook aan die Ou Testamentiese mense verkondig (Heb 4:2, 6).

   Die ruiter op die wit perd (Op 6:2) verwys na Jesus, die ruiter wat die Evangelie verkondig (en hierdie visioen wys op Jesus wat Sy taak te alle tye verrig, selfs in die Ou Testamentiese tyd).

 

Is dit reg om te praat van: “Jesus in die Ou Testament”?

 

Kyk hierna:

Die woord Jesus (in Grieks: Jésous) het dieselfde betekenis as die Hebreeuse woorde Josua en Jeshua. Die name Josua, Jeshua en Jesus beteken almal letterlik: Jehovah is Verlossing. Verlossing is dus nie iets nie, maar Iemand.

Wat Dawid in werklikheid gesê het, was:  Ek sal juig in U Jeshua (Jesus).  (Ps 9:15)

 

Volgens Jesaja 49:6 het God die Vader vir Jesus gesê: Ek het U ’n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde. (Lees ook Hand 13:47)

Die woord Jeshua in die Ou Testament verwys meestal na die Drie-eenheid. Maar onthou, selfs in die Ou Testamentiese tyd was die verlossing op Jesus gefokus, omdat Hy die Waarborg is dat almal wat in Hom glo, gered sal word.

 

Die woord Jeshua kom dikwels in die Ou Testament voor, byvoorbeeld drie keer in Jesaja 12:2-3.

 

Die Engel het aan Josef opdrag gegee om Hom Jeshua te noem (Matt 1:21, in Hebreeus en Aramees). Dit was ook Jesus se naam in Israel.

 

Die Naam Jesus (in Grieks Jésous en in Latyn Jesus) wat Jesus in die Nuwe Testament ontvang het, is dus ’n bevestiging van die Naam Jeshua wat Hy reeds in die Ou Testament gehad het.

 

Tog is Josua, Jeshua en Jesus ook name wat soms aan gewone mense gegee is – lees Esra 3:2;  Handelinge 13:6 en Kolossense 4:11.

 

Lees verder:

’n Samevatting van die Persoon en werk van die Engel van God, geskryf deur dr Theo Laetsch, verskyn in die boek:  Die Wonder van Jesus in die Ou Testament, op bladsy 226-228.

Hierdie boek verskyn op dieselfde webblad:  www.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

STUDIEGIDS                  3.   Die Gesig van God

 

 

    Deur die eeue heen het baie mense voorwerpe in die natuur aanbid, byvoorbeeld mooi tonele soos berge en watervalle. Sommige het die son, maan en sterre aanbid. Op hierdie manier het hulle probeer om God te vind en met Hom te praat.

    Mense probeer steeds om beelde van God te maak. Sommige kerf beelde uit hout, of kap dit uit rotse en klip. Op hierdie manier maak hulle voorwerpe om te aanbid. Soms maak mense beelde om gesigte van hulle gode te probeer uitbeeld.

 

Ø  Miskien soek jy ook na God.

Ø  Miskien wens jy dat jy Hom kan vind.

Ø  Miskien het jy reeds vir ’n lang tyd al gedink oor God en wie Hy regtig is.

Ø  Daar wag goeie nuus vir jou. Is jy reg daarvoor?

 

    Van die begin af het God uitgereik om Homself aan mense bekend te maak. God wil Homself aan mense openbaar. Hy wil hê dat ons Hom moet ken. Daarom het Hy Homself aan ons vertoon. Hoe genadig is God nie!

    Wat beteken dit om vir ander jou gesig te wys?  Dit beteken dat mense jou kan leer ken. Mense identifiseer ’n persoon deur na sy, of haar, gesig te kyk. Jou gesig vertoon ook baie van jou karakter.

    Toe God Homself aan mense bekend gemaak het, het Hy Sy ‘gesig’ aan hulle vertoon deurdat Sy Boodskapper op aarde verskyn het. So kon mense hier op aarde vir God reg leer ken.

    Ons kan dit ook so stel:  Die Boodskapper het verskyn om vir mense die gesig van God die Vader te kom wys. Dus, die Gesig van God beteken: As jy wil weet wie God is en hoe Hy is, kyk dan na Sy Boodskapper. Mense kan vir seker weet dat God net soos Sy Boodskapper is.

    Die almagtige God het Sy liefde en krag vertoon deur Sy Boodskapper te stuur om Homself aan mense bekend te maak. So het God Sy gesig aan mense vertoon.

 

    In die Bybel het die Boodskapper (of Engel) van God baie Name. Een hiervan is Engel van Sy Gesig. (Dit is die letterlike vertaling van die term, in Jes 63:9.) Hierdie Naam beteken: Wanneer die Boodskapper aan mense verskyn het, het Hy aan hulle die gesig gewys van die Een wat Hom gestuur het. Die Boodskapper het ook van gesig tot gesig (Engels:  face to face) met Moses gepraat. (Lees Eks 33:11)

 

Wie is God?

 

    God is Gees. Dit beteken dat Hy van altyd af bestaan, in almagtige krag. Hy is ver bo ons begrip verhewe. Hy is verhewe bo Sy skepping. Uit die Bybel, wat die Ware Openbaring van God is wat neergeskryf is, weet ons presies wie God regtig is.

    Die Bybel sê dat die drie Goddelike Persone saam die een ware God is. Elk van die drie Persone is volmaak in heiligheid, liefde en kennis. Hulle het saam die skepping beplan en dit daargestel. Hulle heers tans daaroor en sorg daarvoor.

 

Ø  Die ware God het ook vir jou gemaak.

Ø  Hy wil hê dat jy Hom moet leer ken soos Hy werklik is.

 

    Die drie Goddelike Persone het dieselfde karaktereienskappe. Dit beteken dat as jy een ontmoet, kan jy weet die ander is dieselfde. Dit wys op hul volmaakte eenheid. Die Tweede Persoon, Jesus, die Boodskapper en Woord, se taak is om God bekend te maak. Dit beteken dat as jy Hom leer ken, leer jy ook die Vader en die Heilige Gees ken. Op hierdie manier leer jy God reg ken.

 

    Nou besef ons ook waarom God die Drie-enige God genoem word. Die woord drie-enig beteken: drie-in-een. Dus word die ware God die Drie-Eenheid genoem.

 

    Nou kan ons verstaan hoe God as drie Goddelike Persone funksioneer:

 

*   Die Eerste Persoon is die Vader. Hy het Sy Boodskapper gestuur. So is die Vader se boodskappe na mense toe gebring.

*   Die Tweede Persoon is Jesus. Hy is nog altyd die Seun van God. Hy is die Boodskapper (of Engel – die Spreekbuis, die Woord). Hy het dikwels op aarde verskyn om die gesig van God die Vader aan mense te openbaar en om God se boodskappe na mense toe te bring.

*   Die Derde Persoon is die Heilige Gees. Hy is die Een wat mense in hulle gedagtes en harte oortuig van die waarheid van God se openbaring. Dus word Hy die Leermeester en Helper genoem.

 

    Dit geld ook vir die manier waarop God die heelal geskep het. Die Eerste Persoon is die Skepper wat alles geskep het. Om te skep, het Hy deur Sy Spreekbuis gespreek – en deur Hom heers die Vader oor alles. Deur die Helper gee Hy aan alles logiese vorm en funksie.

 

Hoe het die Boodskapper van God verskyn?

 

    Die Boodskapper van God is self God. Dit beteken dat Hy in staat is om enigiets te doen wat Sy Vader wil hê.

    Die Boodskapper het elke keer in visioene op aarde verskyn. Hy het terselfdertyd in die allerhoogste hemele by Sy Vader gebly.

 

    Die Bybel sê ook dat mense nie vir God kan sien nie. Die rede hiervoor is dat God absoluut heilig is. Mense wat verkeerde en slegte dinge doen (soos ons almal doen), mag nie vir God direk sien nie. Hulle sal sterf as hulle God in Sy absolute heiligheid sien.

    Dit verklaar waarom die Boodskapper van God slegs in visioene verskyn het. Hierdeur is mense daarvan weerhou om Hom in al Sy heerlikheid te aanskou.

 

    Soms het die Boodskapper in ’n wolk of in vuur verskyn. Op hierdie manier het die Boodskapper van God Homself verberg sodat mense Hom nie direk kon sien nie. Tog was hulle daarvan bewus dat die Boodskapper van God in hulle midde was en dat Hy die Een was wat God se woorde gespreek het.

 

    Die Boodskapper het soms in die vorm van ’n man verskyn. Hy het in hierdie vorm slegs aan enkelinge verskyn. Die volgende is voorbeelde daarvan:

    Ongeveer 4000 jaar gelede het daar ’n man geleef met die naam Abraham. In Genesis 18 lees ons dat die Boodskapper van God saam met twee engele aan hom verskyn het. By hierdie geleentheid het die drie hemelse besoekers soos mans gelyk. Hulle het selfs die kos geëet wat Abraham aan hulle gegee het. By daardie geleentheid het hulle ’n boodskap van God oorgedra dat Abraham en sy vrou Sara, wat albei al oud was, binne ’n jaar ’n seun sou hê. Nadat die drie mans die boodskap afgelewer het, het hulle in die rigting van die dorp Sodom begin stap. Abraham het toe saam met hulle gestap! Tydens die tog wat omtrent ’n dag lank geduur het, het God se Boodskapper hom van God vertel. Abraham het hom in Sy geselskap verlustig. Dus het Abraham, soos baie ander, die Boodskapper van God goed geken!

 

    ’n Ander keer wat die Boodskapper van God in die vorm van ’n man verskyn het, was toe Hy met Jakob by die Jabbokrivier geveg het. Reg deur die nag het ’n fisiese geveg plaasgevind. Wat ’n ontmoeting het hierdie man, Jakob, met God gehad! God se Boodskapper het verskyn om Jakob se naam na Israel te verander, wat prins van God, of oorwinnaar, beteken. Die Israeliete was Jakob se nageslag.

 

    Die Boodskapper van God het helder oordag en ook dikwels in drome en nagtelike visioene verskyn. Hy was nie deur tyd of afstand beperk nie. Hy kon dadelik verskyn, waar en wanneer Hy wou.

 

    Soms het Hy vir ’n kort tydjie verskyn om ’n boodskap af te lewer. ’n Ander keer het Hy voortdurend vir ’n tydperk van 40 jaar verskyn toe Hy die Israeliete uit die slawerny in Egipte verlos het. Gedurende hierdie tyd was die Boodskapper in ’n wolk- en vuurkolom verberg. Op bonatuurlike wyse het Hy vir hierdie volk van omtrent drie miljoen mense en hulle vee gesorg, terwyl hulle deur die dorre woestyn getrek het.

 

Die wonderlike hoogtepunt

 

    Elke keer wat die Boodskapper in die vorm van ’n man verskyn het, was dit ’n profesie dat Hy later as mens gebore sou word.

 

    Die Boodskapper van God het toe werklik na die aarde toe gekom… en is as ’n baba gebore! Nou kon mense Hom sien en aan Hom raak. Die Gesig van God was nou hier by hulle! Wat ’n hoogtepunt!

 

    Hy het steeds God gebly, maar is gebore om ook deel van die mensdom te wees. Dit is die hoogtepunt in die wêreldgeskiedenis!

 

 

Alles wat hier bespreek word, bevestig die waarheid van wat Jesus gesê het.

 

Hy het gesê:  Julle ondersoek die Skrifte (die Ou Testament)…

wat van My getuig.   Johannes 5:39

 

 

    Jesus is gebore om die Ware Openbaring van God nog verder aan mense te bring. Hy is self die Ware Openbaring omdat Hy die Boodskapper en die Boodskap van die Bybel is.

 

    In die volgende hoofstukke kan jy meer hieroor lees.

 

- - - - - - - - - - - - - -

 

 

Gids vir die Bybelstudieleier

 

Opsomming van hoofstuk 1 – 3:

 

    Die volgende stappe het tot dusver in ons studie na vore gekom. Merk elk hiervan af as jy dit verstaan:

 

Ø  Die natuur laat ’n mens besef dat daar ’n God moet wees wat dit geskep het en dit onderhou.

Ø  Die skepping is deur die Spreekbuis van God tot stand gebring.

Ø  Die Spreekbuis van God is ook die Boodskapper en Profeet van God.

Ø  Deur die Boodskapper te ken, leer mense ook die Een ken wat Hom gestuur het.

Ø  Die Boodskapper (Jesus) het die boodskappe van Sy Sender (die Vader) na mense toe gebring.

Ø  Die Boodskapper van God word ook die Woord van God genoem, omdat Hy die woorde van God na mense toe gebring het.

Ø  Die Woord is as mens gebore.

 

Inleiding:

   Die natuur laat ’n mens besef dat daar ’n God moet wees. Ons kan egter nie die gesig van God in die natuur of in mense sien nie. Waarom nie?

Die antwoord is:  Voorwerpe in die natuur is nie self God of gode nie. Alle dinge in die natuur is geskep, maar die ware God is nie geskep nie. Hy bestaan van altyd af.

 

   Selfs mense kan nie die gesig van God wees nie omdat hulle geskep is – en nog meer: alle mense is sondig. ’n Mens kan egter deur die werk van die Heilige Gees nuut gemaak word en dan kan hy die heerlikheid van God weerkaats. Die wat aan Jesus behoort, kan dit net weerkaats, nie ‘uitstraal’ nie. Jesus straal die heerlikheid van God en Sy gesig uit, maar Johannes die Doper, byvoorbeeld, het die heerlikheid van Jesus weerspieël deur van Hom te getuig (Joh 1:8). So moet ons ook doen. (Dink ook aan Moses se gesig wat geblink het – lees Eks 34:29-30)

   Wie is dan die ware Gesig van God?

 

Lees:  Johannes 14:6-9

1.    In die Ou Testamentiese tyd het Jesus dikwels in visioene verskyn.

Jesus is soos Sy Vader. Daarom kon Hy sê: Hy wat My gesien het, het die Vader gesien (Joh 14:9). Die Boodskapper is soos die Een wat Hom gestuur het. Om Jesus te sien (en die genade en waarheid in Hom – Joh 1:14) is soos om die Vader te sien. Jesus is die afskynsel van die heerlikheid van God en die afdruksel van Sy wese (Heb 1:3).

Deur Jesus te ken, leer jy die Vader ken (Joh 8:19). Deur na Jesus te kyk, leer jy God in waarheid ken. Daar is geen ander manier om die ware God te leer ken nie, as deur Jesus.

Hierdie waarheid geld vir alle tye, vir die Ou Testamentiese mense en ook vir alle mense vandag.

2.    Jesus het van altyd af die taak gehad om God bekend te maak (en dit het Hy ook gedoen aan Adam en Eva – Gen 3:8). Jesus is die Beeld van God (Kol 1:15). In Hom kan die heerlikheid van God gesien word (Joh 1:18; 2 Kor 4:4, 6; Heb 1:3). Dit geld ook vir die Ou Testamentiese tyd.

Ø  Slegs deur Jesus kan jy die ware God leer ken. As jy wil weet hoe God die Vader is, kyk dan na Jesus. Jy kan meer van Jesus, en dus ook van God, leer deur die Bybel te lees.

3.    Toe die Engel van God op die Sinaiberg verskyn het (Eksodus 19), is God se teenwoordigheid aangedui deur vuur (lees ook Eks 24:17; Deut 4:24; Heb 12:29) en ’n dik wolk.

       God se heerlikheid was soos ’n verterende vuur. Dit dui aan dat God absoluut heilig, regverdig en sterk is.

Ø  Ons moet heilig lewe.

Wat is van die praktiese gevolge wat hieruit na vore kom?

Hoe kan jy jou eerbied vir God betoon:

-        deur die manier waarop jy praat

-        deur jou kleredrag?

4.    God is een God (Deut 6:4; Joh 10:30).

       Die drie Persone in die Godheid is:  Vader, Seun en Heilige Gees (Matt 28:19; lees ook Matt 6:9; Ps 2:7, 12 en Joh 3:16; Hand 2:4). Hulle funksioneer in eenheid en harmonie. Hulle is absoluut heilig, liefdevol en regverdig. Al drie Persone is ewig en is dus nie geskep nie.

5.   Christene kan hulle eenheid bevorder deur byvoorbeeld saam te bid, mekaar te ondersteun, mekaar te vergewe en na mekaar uit te reik. Sê hoe, waar en wanneer. Gee tyd vir bespreking.

Notas:

*   Elke verskyning van Jesus was ’n Christofanie. Hierdie woord kom van die Griekse werkwoord phainō, wat beteken: om te verskyn. Die woord Christofanie beteken dus Christus-verskyning. Elke Christofanie was ook terselfdertyd ’n Teofanie (of Godsverskyning). Toe Jesus mens geword het, het die Ou Testamentiese Christofanieë opgehou.

*   Die tabernakel het na Jesus heengewys (lees Hebreërs 9). Dink aan die daaglikse offers wat daar gebring is. Jesus se teenwoordigheid is aangedui deur die wolk- en vuurkolom wat die tabernakel oordek het (Eks 40:34-38; Lev 16:2) en deurdat Hy die Spreekbuis, of Woordvoerder, van God was wat vanaf die versoendeksel gepraat het (Lev 1:1; Num 7:89).

Die tabernakel was ongeveer 500 jaar lank in gebruik, tot in koning Salomo se tyd toe die ark en die tabernakel na die tempel verskuif is (1 Kon 8:1-11).

- - - - - - - - - - - - - -

 

Notas oor hierdie hoofstuk

 

Die Boodskapper van God, naamlik Jesus, het die gesig van die Vader aan mense kom wys (Joh 12:45; 14:9; Heb 1:3).

Nota:   In sommige Engelse Bybelvertalings word die term Engel van Sy aangesig, in Jesaja 63:9, vertaal met Angel of His Presence, maar laasgenoemde is nie ’n letterlike vertaling van die oorspronklike Hebreeuse teks nie.

 

Jesus is die Beeld van God in wie se aangesig die heerlikheid van God gesien kan word (2 Kor 4:4, 6; lees ook Joh 1:18; Kol 1:15; Heb 1:3). Dit geld ook vir in die Ou Testamentiese tyd.

Voorbeelde van mense wat in die Ou Testamentiese tyd Jesus se verskynings gesien het, was Jakob (Gen 32:30), Moses (Eks 33:11) en Gideon (Rig 6:22).

God is een God (Deut 6:4; Joh 10:30; 17:11, 22) hoewel Hy drie Persone is: Kyk na die woord Ons in Genesis 1:26. Lees ook Gen 1:2; Jes 61:1-2 (vergelyk Luk 4:18-19; Matt 28:19; 2 Kor 3:17; 13:13).

Hy is die enigste ware God (2 Sam 7:22; 1 Kon 8:23; Ps 86:10).

God is heilig, heilig, heilig (Jesaja 6:3; Openbaring 4:8).

God is Vader (Matt 6:4, 6, 9; 2 Kor 1:2), Seun (Ps 2:7, 12; Spr 30:4; Jes 9:5; Matt 3:17; Joh 3:16; Hand 13:33; 1 Joh 5:9-13) en Heilige Gees (Ps 51:13; Luk 3:22; Hand 2:4).

Die term God die Vader kom voor in byvoorbeeld Galasiërs 1:1, 3 en Kolossense 3:17.

Die Heilige Gees is die Leermeester en Helper (in Grieks: Paraklétos) wat in God se kinders woon (Joh 14:16-17, 20, 23, 26; 15:26; 16:7).

God die Vader het die skepping geinisieër en deur Sy wil het dit tot stand gekom (Ef 3:9; Op 4:11).

God die Vader het deur Sy Seun, Jesus Christus, geskep (Joh 1:1-3; Ef 3:9) en heers deur Hom (Heb 1:2-3) in die krag van die Heilige Gees (Gen 1:2; Ps 104:30).

Die Engel van God het elke keer verskyn as die Israeliete in groot nood was. Hy het verskyn om hulle te verlos (Eks 2:23 – 3:2).

Die Engel van God is in staat om sondes te vergewe, wat aandui dat Hy self God is (Eks 23:21), maar gewone engele is nie in staat om sondes te vergewe nie.

In die Ou Testamentiese tyd het God se Boodskapper (Engel) uit die hemel neergedaal

(Eks 19:18, 20; Num 11:17, 25) en verskyn (Gen 17:1) en daarna weer opgevaar (Gen 17:22; 35:9, 13; lees ook Rig 6:11, 21 en 13:3, 20). Ons weet dat dit die Boodskapper was (vergelyk Sy Naam in Gen 22:11-15 en Eks 3:2, 6) en Hy is ook die Engel van die verbond (Mal 3:1).

Die Boodskapper het in visioene (gesigte) verskyn (Gen 15:1; Num 12:6-8; Eseg 1:1; Hos 12:11) terwyl Hy by Sy Vader in die hemel gebly het (Ps 110:1; Luk 20:41-44).

Mense kan God nie direk sien nie (Eks 33:20; Joh 1:18; 1 Tim 6:16).

God, en dus ook Jesus, die Boodskapper, is ’n verterende vuur (Eks 19:18; 24:17; Deut 4:24; Heb 12:29). Daarom kan niemand Hom in al Sy heerlikheid sien en bly lewe nie.

Drie manne het aan Abraham verskyn (Gen 18:1-33) van wie die een HERE en Here genoem is (Genesis 18:1, 13, 27, 30) en wat die Boodskapper van God is. Die ander twee was gewone engele (Gen 19:1).

Nota:  Die Naam HERE (Hebreeus: Jehovah of Jahveh) beteken: Verbondsgod – en dit dui Sy genade en liefde aan. Die Naam Here (Hebreeus: Adonai) beteken: die Allerhoogste, die Oppermagtige Koning en Allerhoogste Regter. Die woord Adonai dui op rang, terwyl die woord Jehovah Sy wese aandui.

Abraham het saam met Jesus, die Boodskapper, gestap (Gen 18:16).

Jakob het die plek waar hy met die Engel geworstel het, Pniël genoem. Dit beteken letterlik: Gesig van God (Gen 32:30).

Die feit dat die Engel van God die Een is wat by Bet-el aan Jakob verskyn het (Gen 28:10-19) en met hom geveg het (Gen 32:24-30), word deur die profeet Hosea bevestig (Hos 12:5).

Die Boodskapper het vir Jakob deur sy hele lewe gelei (Gen 48:15-16).

Die Boodskapper van God het soms in die vorm van ’n man verskyn (Gen 18:1-2; 32:24-30; Jos 5:13-15; Rig 13:6-11; Eseg 1:26-27).

Jesus se verskyning in die vorm van ’n man word geïmpliseer in byvoorbeeld Gen 3:8; 16:7-13; Eks 33:11; Num 12:8; 22:23, 31; Rig 6:11, 21-22; 1 Sam 3:10; Amos 7:7; 9:1;  Sag 1:11. Dit dui aan dat Jesus in die Ou Testamentiese tyd aktief was.

Die Boodskapper het in helder daglig verskyn (Eks 3:1-6; Rig 6:11-22), in drome (Num 12:6; 1 Kon 3:5) en in nagtelike visioene (Gen 28:12-13; 46:2).

Nebukadnesar het vier manne in die vuuroond gesien en gesê: “…hulle is nie beseer nie en die voorkoms van die vierde lyk soos dié van die Seun van God” (Dan 3:25) en die vierde Persoon was die Engel (vers 28).  Nota:  Hierdie is ’n vrye vertaling uit die New King James Version.

 

Die trek deur die woestyn – en die tabernakel

 

Die tabernakel was vanaf die tweede jaar na die uittog in gebruik (Eks 40:17).

Die wolk was bo-op of bo-oor dit in die dag – en die vuur was letterlik in dit in die nag (Eks 40:34-38).

Jesus, God se Spreekbuis, het vanaf die versoendeksel met Moses gepraat (Eks 25:22; Lev 1:1) en Sy stem het van tussen die gérubs (troonengele) uit weerklink (Num 7:89). Die gérubs was die twee engele wat met goud oorgetrek was en wat aan weerskante van die versoendeksel gestaan het (Eks 25:19-20; 37:8). Die Here het onsigbaar getroon tussen die gérubs op die verbondsark (1 Sam 4:4; 2 Sam 6:2).

Vir 40 jaar het die Boodskapper voortdurend in die wolk en vuur verskyn (Eks 14:19, 24; 23:20, 23; Num 9:15-23).

Jesus se verskyning in ’n visioen in die wolk- en vuurkolom was ’n sigbare teken dat Hy, soos altyd, die Lig van die wêreld is (Joh 1:9;  8:12) en die goeie Herder (Joh 10:11) en die Een wat beskerm (die wolk, Ps 105:39).

Jesus het in ’n visioen in ’n wolk neergedaal om die Heilige Gees op 70 van die oudstes van die Israeliete te lê (Num 11:17, 25).

Jesus was die Rots wat die Israeliete vergesel het (1 Kor 10:4).

Die manna (Eks 16:14-15, 31) of hemelbrood (Ps 105:40) het na Jesus, die Brood van die Lewe, verwys (Joh 6:35). Hy het ook water voorsien (Eks 17:2-7; Ps 105:41) en Hy is die Een wat ons geestelike dors les (Jer 2:13;  7:13; Joh 4:10, 14; 7:37-39).

Nota:  ’n Tipe is iemand of iets wat die karaktertrekke van ’n ander weerspieël. Adam was ’n tipe (Grieks: tupos) van Jesus Christus (Rom 5:14) en so was baie ander Ou Testamentiese persone en selfs die voorwerpe in die tabernakel, tipes van Hom (Heb 9:1-12). Die tabernakel het nie alleen na Jesus as Persoon verwys nie, maar ook na wat Hy kom doen het. Die Israeliete is voortdurend aan die koms van die Messias herinner deur die tabernakel en sy funksies.

 

Kyk hierna:

Ø  Die wolk- en vuurkolom het die tabernakel oordek (Eks 40:34-38).

Ø  In die tabernakel, in die Allerheiligste, het ’n verligte wolk voortdurend op die versoendeksel geskyn (Lev 16:2). Dit het God se heiligheid aangedui en dus die heiligheid van die Boodskapper in die wolk.

 

Ø  In die Heilige, die vertrek in die middel van die tabernakel, het gestaan:

o   Die goue kandelaar, met sewe lampe – Jesus is die Lig van die wêreld (Joh 1:9;  8:12).

o   Die tafel met die toonbrode – Jesus is die Brood wat lewe gee (Joh 6:35).

o   Die wierookaltaar – waar wierook gebrand is, wat ’n lewe van gebed en noue ge-meenskap met God uitgebeeld het, wat alleen deur Jesus moontlik is (Joh 14:6).

 

Ø  In die voorhof was:

o   Die koperaltaar, of die brandofferaltaar (Eks 27:1): die offers het na Christus se dood en dus ons versoening met God heengewys.

o   Die koperwaskom (Eks 30:17-21): deurdat voorwerpe gedurig hier gewas is, het dit gedui op reiniging en ’n heilige lewe.

 

 

   Nadat die tempel wat deur koning Salomo gebou is, voltooi is, is hierdie voorwerpe daarin geplaas (1 Kon 8:1, 22, 64; 9:25).

 


 

STUDIEGIDS

4.   Die Boodskapper van God het mens geword

 

 

Wat was die grootste gebeurtenisse in wêreldgeskiedenis?

Was dit dalk groot oorloë of hongersnode?

Nee, die grootste gebeurtenis is dat God, ja, die Boodskapper van God, op aarde verskyn het.

Wat kan meer aangrypend en van groter belang wees as dat God op aarde verskyn het?

 

    Gedurende die duisende jare wat mense op aarde bestaan, het die Boodskapper van God soms in visioene verskyn. Dit beteken dat Hy in die hemel by Sy Vader (wat Hom gestuur het) gebly het, maar in Sy almag het Hy die vermoë om terselfdertyd op aarde te verskyn. Mense kon Hom sien.

 

v Selfs vandag nog is dit vir elke mens van die grootste belang om God se Boodskapper te ken en in Hom te glo.

v Jou ewige bestemming word bepaal deur dit wat Hy gedoen het en of jy in Hom glo, of nie.

 

Hy bestaan van altyd af

 

    Om beter te verstaan hoe wonderlik dit is dat die Boodskapper van God as mens op aarde gebore is, moet ons eers kyk na wat Sy posisie was voordat Hy gebore is.

    Uit die Bybel, wat die Ware Openbaring van God is, weet ons dat God van ewigheid af bestaan. Dit beteken dat daar nooit ’n tyd was wat God nie bestaan het nie.

 

    Dit moet vir jou baie bemoedigend wees:

v Jy hoef nie te twyfel aan die bestaan van God en wie Hy regtig is nie.

v God is wie Hy is, van ewigheid af!

v Hy het geen begin nie – en dit beteken dat Hy van altyd af daar was!

 

    Dit is ’n wonderlike waarheid. Voordat die son, maan, sterre, aarde en bome bestaan het, was God daar. Hy het toe self die skepping beplan.

    God het nie nodig gehad om te skep nie, maar Hy wou skep en geniet wat Hy sou skep. Hy het toe uit niks, alles geskep.

    Die Boodskapper van God het aktief hieraan deelgeneem.

    Alles is volmaak geskep. Niks was verkeerd in God se skepping nie. Alles het in harmonie bestaan en gelewe.

 

Sonde het in die skepping ingekom

 

    Die Bybel leer ons dat Adam en Eva die eerste mense was wat God geskep het. Hulle het in ’n wonderlike plek, die tuin van Eden, gewoon. Niks wat daarin geleef het, was bestem om te sterf nie.

    Die grootste voorreg wat Adam en Eva gehad het, was om ’n oop verhouding met God te hê. Daar was niks verkeerd in hulle verhouding met God nie.

    Adam en Eva is as verantwoordelike mense geskep. Dit beteken dat hulle die keuse gehad het om God te gehoorsaam, of nie. God wou weet of hulle Hom vrywillig sou gehoorsaam – nie uit dwang nie, maar uit liefde en eerbied vir Hom.

    God het toe (natuurlik deur Sy Spreekbuis, of Boodskapper, of Woord) hulle beveel om nie te eet van die vrugte van ’n sekere boom in die tuin nie, want as hulle daarvan eet, sou hulle sterf.

    Daarna het die bose een, naamlik satan, in die vorm van ’n slang na Eva toe gekom en hy het God se bevel aan hulle bevraagteken. Satan het vir Eva gesê dat as sy van daardie vrug eet, sy soos God sou wees. Dit was ’n verskriklike leuen.

    Wat het Eva gedoen? Sy het van die vrug wat verbied was, geëet en vir Adam gegee en hy het ook daarvan geëet.

 

    Op daardie oomblik het sonde in die skepping ingekom. Deur die ongehoorsaamheid van die eerste twee mense het sonde in die skepping ingekom. Adam en Eva is geskep om as mense die kroon van die hele skepping te wees. Omdat húlle in sonde geval het, het sonde toe die hele skepping deurdring.

    Dit beteken dat selfs vandag nog alle mense op aarde sondig is omdat hulle die nageslag van Adam en Eva is. Ons word in sonde gebore en is geneig om verkeerde dinge te doen, te dink en te praat.

    God haat sonde omdat sonde ’n misdaad teen Hom is. Hy wil hê dat reg moet geskied. Sonde moet gestraf word.

 

God se plan vir ons verlossing

 

    Ons moet besef dat ons nie deur ons eie pogings God se straf kan vryspring nie. Ons is nie in staat om onsself van sonde te verlos en vry en skoon te word nie.

    Dink byvoorbeeld aan steenkool. Dit is vuil. Dit kan nie deur ander steenkool skoon gemaak word nie. Steenkool kom oorspronklik van bome en plante – en vir steenkool om weer skoon te word, is ’n daad van buite af nodig.

 

    In die geval van Adam en Eva se sonde (en dus ook die sonde van die hele mensdom) was ’n bonatuurlike daad van God nodig om hulle van hul sondes te red. Net God moes ingryp. Ook vir die mensdom was daar geen ander uitweg nie.

    God het self ’n plan gemaak. Dit was ’n wonderlike plan. Tot in alle ewigheid sal ons oorvloedige rede hê om God te dank vir wat Hy gedoen het om ons te red. Hierdie plan wys vir ons hoe regverdig en liefdevol God is.

 

    God se plan was die volgende: Sy Boodskapper moes na die aarde toe kom en ’n mens, een van ons, word. Hy sou God bly, maar ook ’n menslike liggaam kry. Dit beteken dat Hy ook volledig mens sou word. Hy sou dus God en mens wees. Op hierdie manier sou Hy in ’n posisie wees om regverdiglik vir die sondes van mense te betaal en hulle van skuld vry te maak.

 

    Dit was mense, Adam en Eva, wat gesondig het. Daarom was dit reg (en nodig) dat ’n mens die straf vir hulle sonde (en ook die sondes van hulle nageslag) moes dra. God het Sy Seun, die Boodskapper, gekies om die Een te wees wat mens moes word en as betaling ’n offer moes bring. Net die volmaakte, sondelose Seun van God, wat self God is, was in staat om die straf te dra en die skuld te betaal wat God vereis het.

 

    Die vooruitsig van die Verlosser se koms na die aarde is in die Ou Testament deur God se profete voorspel. Deur baie eeue heen, voor Sy geboorte, is bekend gemaak wie Hy is, dat Hy sou kom en wat Hy sou doen. Adam en Eva het reeds in die tuin van Eden gehoor hoe God sê dat Een sou kom wat die satan se kop sou vermorsel (Gen 3:15).

 

    In die Ou Testamentiese tyd het die Israeliete (en ’n aantal mense uit ander nasies) van die Ware Openbaring geweet, dus ook dat Iemand wat self God is, sou kom en die skuld vir hulle sondes sou wegneem. Hulle het geweet dat Hy die Messias is. Dit is ook aan hulle geopenbaar dat die Engel (Boodskapper) van die verbond die Een is wat hierheen sou kom (Mal 3:1).

    Die Seun van God, wat ook die Messias en die Boodskapper (Woord) is, sou op ’n bonatuurlike manier uit ’n maagd gebore word. Dit het toe wel so gebeur op die tyd wat God bepaal het.

 

Ø  Is jy opgewonde oor wat God gedoen het?

Ø  Is jy bly dat die Boodskapper van God, wat self God is, op aarde gebore is?

Ø  Wil jy graag meer oor Hom weet?

Ø  Maak jy jou hart en verstand vir Hom oop?

 

  Die Boodskapper van God, naamlik Jesus, is werklik ’n wonderlike Goddelike Persoon. Toe Hy mens geword het, het Hy nooit gesondig nie. Hy is die enigste persoon wat op die aarde geleef het en nooit sonde gedoen het nie.

 

 

En die Woord het vlees (mens) geword en het onder ons gewoon…

Johannes 1:14

 

·       Miskien vra jy nou: “Waarom is Hy gebore en wat het Hy gedoen terwyl Hy hier op die aarde gewoon het?” Dit is waaroor die volgende hoofstuk handel.

- - - - - - - - - - - - - -

 

Gids vir die Bybelstudieleier

 

Inleiding:

In die vorige Bybelstudie het ons gepraat oor wie God is.

Die vraag is nou: Wat van jou?

Wat dink jy van jouself? (Merk een van die volgende vier moontlikhede):

Dink jy dat jy:

goed is/’n bietjie goed is/nie so sleg nie is/baie sleg is?

 

Ø  Die waarheid is: Jy is nie regtig wat jy van jouself dink nie, maar jy is wat God weet dat jy is.

Ø  Is jy bewus van dinge in jou lewe wat in God se oë verkeerd is? Wat is dit?

 

Lees:  Psalm 14:1-3

1.      Adam en Eva het gesondig en moes daarom sterf (Gen 3:19).

         As gevolg daarvan is hulle nageslag sondig en daarom word alle babas is     sonde gebore.

         (Lees ook Job 14:4; Ps 51:7; Rom 3:10-12, 23). Almal het hulle eie pad geloop,               almal het sonde gedoen.

         Ook moet almal fisies en geestelik sterf (Rom 5:12; 6:23). Om geestelik te sterf,

         beteken dat jy ’n geestelike lyk word (Ef 2:1) en vir die hel bestem is.

2.      Voorbeelde van sonde is: Om weg te draai van die ware God (Jesaja 1:4) en om mense om te koop in plaas daarvan om na hulle behoeftes om te sien (Jes 1:23). In Galasiërs 5:19-21 word die volgende genoem: seksuele sondes, verkeerde godsdienstige praktyke, verkeerde gesindhede teenoor ander en verkeerde gedrag teenoor ander en jouself.

3.     Die woord sonde beteken om te doen wat verkeerd is, om die teenoorgestelde van God se wil vir jou lewe te doen, om die doel te mis wat God vir jou lewe het.

         Die kern van sonde is om nie in Jesus te glo nie (Joh 16:9) en Hom dus te verwerp.

         Alle verkeerde dade kom hieruit na vore.

4.      Sonde is ’n ernstige saak. Dit skei ’n mens van God (Jes 59:2).

         Elke mens se sondes moet gestraf word. Die loon van die sonde is die dood (Rom 6:23). God weet alles (Jer 16:17) en is regverdig (Ps 7:12). Sy reg en waarheid bly ewig staan.

 5.   Dit is ’n belangrike vraag. Jy moet jou sonde erken en ook die skuld en straf wat dit in jou lewe veroorsaak. Net dan sal jy besef dat jy ’n Verlosser nodig het.

        Die Vader en Jesus het die Heilige Gees, die Trooster, gestuur. Die Heilige Gees help jou om van jou sondes bewus te word en Hy oortuig jou dat jy jouself nie kan red nie.

6.     Die Heilige Gees oortuig jou dat jy ’n Verlosser nodig het.

        Die Heilige Gees wys vir jou dat Jesus die volmaakte oplossing vir jou probleem is.

        Dus, vra vir God om jou deur die Heilige Gees van jou sondes te reinig.

        Bely jou sondes teenoor Hom en los jou ou sondige lewe.

        Hoe gaan jy van nou af ’n skoon en nuwe lewe lei?  (Wees prakties)

 

Nota:    Om jou van jou sondes te bekeer, beteken:

                  ’n verandering van hart, gedagtes en lewensdoel, en

        ’n omkeer en terugdraai na God.

 

                      Beide hierdie aspekte, naamlik:  om tot inkeer te kom en jou te bekeer,

                      word in Handelinge 3:19 vermeld.

 

- - - - - - - - - - - - - -

 

Notas oor hierdie hoofstuk

 

God is ewig (Ps 90:2; 93:2; Jes 57:15; Joh 8:58; 17:5).

God het die heelal uit niks geskep nie (Heb 11:3).

Satan, die duiwel, is ’n gevalle engel (Jes 14:12-15; Luk 10:18) en omtrent een-derde van die engele het saam met hom geval (Op 12:3-4).

Adam is na die beeld van God geskep (Gen 1:26-27), dus het hy vir God geken en was hy in die regte verhouding met God. Hoewel hierdie beeld deur die sondeval geskend is, word dit deur Jesus herstel (Rom 8:29; Kol 3:10).

Mense is die kroon van die skepping omdat die geestelike en fisiese in hulle verenig is (Gen 2:7; 1 Kor 15:45).

 

Adam en Eva het in die tuin van Eden gewoon (Gen 2:8-25).

Hulle is verbied om van die vrugte van ’n spesifieke boom te eet (Gen 2:16-17).

Hulle was ongehoorsaam en het in sonde geval (Gen 3:1-7).

Van toe af word almal in sonde gebore (Ps 51:7; Rom 3:9-20, 23).

Ons kan onsself nie red nie (Rom 3:20; Ef 2:1).

God het ’n plan gemaak om ons te red (Joh 3:16) en dit wys vir ons God se liefde (Joh 3:16) en geregtigheid (Rom 3:21-26).

 

Voorbeelde van Messiaanse profesieë in die Ou Testament

 

In die tuin van Eden is aangekondig dat die Verlosser na die wêreld toe sou kom (Gen3:8, 15).

Nota:  In die New King James-vertaling van die Bybel word die woord Saad met ’n hoofletter geskryf, in Genesis 3:15 en in Galasiërs 3:16, 19, wat daarop dui dat hierdie woord direk na Jesus Christus, ons Verlosser, verwys.

          In die Messiaanse psalms word Jesus beskryf as die ewige           Gesalfde/Messias/Christus (Ps 2:2), Koning (Ps 2:6; 45:2, 12), Seun (Ps 2:7, 12), God (Ps 45:7-8), Here en Priester (Ps 110:1, 4).

 

Nota:  Psalm 45 is tydens koninklike troues gesing in die tyd van die Israelitiese konings. Die hoofklem van hierdie psalm (en ander Messiaanse psalms) is egter om Jesus te prys. Wanneer hierdie psalm by so ’n troue gesing is, is Jesus deur die inspirasie en krag van die Heilige Gees verkondig.

 

Jesus, die Koning, sou gebore word (Jer 23:5; Miga 5:1; Sag 9:9; Matt 2:2; 21:5).

In die boek Esegiël word Jesus genoem: Herder, Kneg, Dawid, Prins en Koning (Eseg 34:23-24; 37:22-25, Amp). In die Amplified Bible lees Esegiël 37:24 soos volg (en let op die hoofletters):  And David My Servant shall be King over them, and they all shall have one Shepherd.

Hosea 3:5 sê dat ’n wonderlike toekoms vir die volk van Israel sou voorlê as …hulle die HERE, die God van Dawid, hulle Koning, soek. (Vergelyk die Amplified en Living Bible)

As ’n Spruit (takkie) sou Jesus in die mensdom ingeplant word en groei (Jes 4:2; 11:1-10; Jer 23:5; 33:15; Sag 6:12).

Hy word die wortel van Isai genoem (Jes 11:10).

Jesus word Immanuel genoem, wat beteken:  God is met ons (Jes 7:14; Matt 1:23). Hierdie Naam was selfs in Ou Testamentiese tyd van toepassing.

Hy moes uit ’n maagd gebore word (Jes 7:14; Matt 1:18, 23).

Iemand wat self God is (Jes 9:5; Joh 1:1-3, 14) en wat ewig is (Miga 5:1), sou gebore word.

Hierdie Goddelike Persoon, naamlik Jesus, het geen sonde gedoen nie (Jes 53:9; 1 Pet 2:22). Hy is volkome regverdig en is in staat om sondaars regverdig te maak (Jesaja 53:11).

Ander Messiaanse profesieë in die boek Jesaja is byvoorbeeld: Jesaja 2:2-4; 7:14; 9:1-6; 28:16; 35:10; 61:1-2; asook die Kneg van die HERE – profesieë: Jesaja 42:1-9; 49:1-13; 50:4-10 en 52:13 – 53:12.

Verse uit Jesaja 52:13 – 53:12 word 18 keer in die Nuwe Testament aangehaal en elke keer dui dit slegs op Jesus (lees byvoorbeeld Jes 53:7-8 en Hand 8:32-35).

Hy word ook met hierdie Naam genoem: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID (Jer 23:6).

Jerusalem word met dieselfde Naam aangedui (Jer 33:16) omdat dit op die berg Sion geleë is, waar koning Dawid en sy nageslag geheers het. Die tempel is ook in Jerusalem gebou – en Jesus sou ook daar buite die stad vir ons sondes gekruisig word (Heb 13:12).

Jesus is die Leraar van Geregtigheid (Joël 2:23, met hoofletters, in sommige van die ouer Hollandse Bybelvertalings, asook in The Scriptures).

Die Engel (Boodskapper) van die verbond sou kom (Mal 3:1). Hy sou Sy tempel bou (Mal 3:1; Sag 6:12-13).

In die toneel van die eindoordeel (Dan 7:9-14) word Jesus die Seun van ’n mens genoem (vers 13) en die Vader word die Oue van dae genoem (vers 9, 13; en lees Ps 90:2). Die term Seun van die mens word ongeveer 83 keer in die Nuwe Testament aangehaal, waarvan Jesus dit 80 keer gebruik. Elk van hierdie aanhalings is ’n verwysing na die term: Seun van ’n mens, in Daniël 7:13.

 

 

 

STUDIEGIDS

5.   Jesus, die Boodskapper, het op die aarde geleef

 

 

God wou Homself ten volle aan die mensdom bekend maak.

Hy wou hê dat mense Hom goed moes leer ken en Hom kon aanraak.

Hy is genadig. Hy wou na mense toe uitreik en hulle verlos.

 

Die Boodskapper se geboorte

 

    Hoe is die Boodskapper en Verlosser op aarde gebore?

 

    God het ’n engel met die naam Gabriël gestuur om die boodskap aan ’n maagd, Maria, te bring dat sy die moeder van die langverwagte Verlosser sal wees. Die Heilige Gees sou oor haar kom en op hierdie manier sou sy swanger word en die baba verwag. Sy sou geen natuurlike omgang met ’n man hê voordat hierdie Kind gebore is nie. Gabriël het toe die naam van die Kind aangekondig – en die Naam is Jesus.

 

    Jesus het ’n betekenisvolle Naam ontvang toe Hy gebore is. Die Naam Jesus beteken Verlosser. Jesus is gebore vir ’n spesifieke doel: om mense te verlos en hulle na God toe terug te bring. Hy wou hê dat hulle van sonde en die ewige oordeel verlos moes word. Hy wou aan hulle die ewige lewe in die hemel gee, om vir ewig by God te wees.

 

    Daarom het die Boodskapper van God ’n spesifieke naam ontvang toe Hy gebore is. Die goeie nuus is dat selfs Sy Naam en die betekenis daarvan vooraf deur God bekend gemaak is.

 

    ’n Bietjie meer as 2000 jaar gelede is die Boodskapper (Woord) van God in die dorp Betlehem gebore. Dit was so ’n merkwaardige gebeurtenis dat ’n engel uit die hemel aan skaapwagters in die veld daar naby verskyn het, om vir hulle aan te kondig dat die Verlosser gebore is.

 

    En toe, skielik, is die hemele geopen en engele het neergedaal wat gesing het:

 

          Eer aan God in die hoogste hemele

en vrede op aarde, in die mense ’n welbehae!  (Luk 2:14)

    Selfs ’n ster het in die hemelruim beweeg om aan wyse manne uit die Ooste die pad te wys na die plek waar die Kindjie was.

 

    Die waarheid dat die Verlosser gebore is, word ook bevestig deur die feit dat die meeste lande in die wêreld vandag steeds kalenders gebruik wat gedateer is vanaf die tyd van Jesus se geboorte, dus meer as 2000 jaar gelede. Verder word Jesus, die Messias, se geboorte vandag nog met Kersfees in die meeste lande van die wêreld gevier (hoewel dit dikwels nie op die regte manier gedoen word nie).

    Jesus het in die dorp Nasaret opgegroei. Hy was gehoorsaam aan Sy stiefvader, Josef, en het hom gehelp om houtartikels te maak en te herstel. Jesus was nooit getroud nie.

    Gedurende die eerste 30 jaar van Sy lewe het Hy nie vir mense gepreek nie. Toe Sy openbare bediening begin het, het Hy na Kapernaüm verhuis, wat naby die See van Galilea is.

 

Wat het by Jesus se doop gebeur?

 

    Toe Jesus 30 jaar oud was, was Hy gereed om met Sy bediening te begin. God het ’n profeet voorberei wat moes aankondig dat Jesus van toe af in die openbaar gaan optree. Die naam van hierdie profeet is Johannes die Doper. Hierdie man het in die woestyn gewoon. Hy het vir menigtes gepreek en het hulle in die Jordaanrivier gedoop. Hy het gepreek dat hulle hul tot God moes bekeer en hulle sondes moes bely, omdat die Koninkryk van God naby gekom het. Hy het ook na Jesus gewys en aangekondig dat Hy die langverwagte Verlosser is – en toe gesê:  “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”  (Joh 1:29)

 

    Jesus is in die Jordaanrivier deur Johannes die Doper gedoop. Dadelik na die doop het die Heilige Gees in die vorm van ’n duif uit die hemel op Jesus neergedaal. Skielik het ’n stem uit die hemel gesê:  “Dit is My geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het” (Matt 3:17). Dit was die stem van God die Vader.

 

     Uit hierdie gebeure leer ons meer oor wie God regtig is. Die Boodskapper van God, naamlik Jesus, word hier die Seun van God genoem.

    Die Een wat uit die hemel gespreek het en Jesus Sy Seun genoem het, was God die Vader. Dus is die Vader die Een wat altyd vir Jesus gestuur het.

    Die Gees van God wat in die vorm van ’n duif neergedaal het, is die Heilige Gees. Die feit dat Hy op so ’n manier neergedaal het, is baie betekenisvol omdat ’n duif ’n simbool van vrede is. Die Heilige Gees is ook ’n Persoon (en daarom verwys ons na die Heilige Gees as Hy en nie as dit nie). Hy leer mense van God.

    Dit alles beteken dat die drie Goddelike Persone saam die een ware God is.

 

    Jesus het ’n belangrike taak gehad om op aarde te vervul. Geen gewone mens sou kon doen wat Jesus gedoen het nie. Om Hom vir Sy taak toe te rus, het die Vader vir Jesus met die Heilige Gees gesalf. In werklikheid was Jesus reeds van altyd af met die Heilige Gees gesalf. Hierdeur is Hy aangestel en toegerus vir die taak om ons Verlosser te wees.

 

    Die salwing by Sy doop was ook ’n openbare verklaring deur die Vader dat Jesus Sy enigste Seun is, Sy Geliefde, die Een wat aangewys is om die Verlosser te wees.

 

    As gevolg van hierdie salwing met die Heilige Gees word Jesus die Messias, die Christus, genoem.

(Messias, uit die Hebreeuse taal   =   Christus, uit die Griekse taal   =   Gesalfde)

 

    Nou verstaan jy beter waarom Hy Jesus Christus genoem word. Hierdie Naam beteken dat Jesus deur God aangewys is om die Verlosser te wees.

 

Ø  Jesus is werklik die enigste Een wat mense van hulle sondes en die ewige verderf kan verlos.

Ø  Die rede is: God het Hom aangewys!

Ø  Aanvaar en glo jy dat God vir Jesus aangewys het om die enigste Verlosser te wees?

Ø  Neem jy Jesus aan as jou enigste Verlosser?

 

 

Op die berg van verheerliking het die Vader ook uit die hemel gespreek

en bevestig dat Jesus die Messias is. Hy het gesê: “Dit is My geliefde

Seun in wie Ek ’n welbehae het. Luister na Hom!”   Matteus 17:5

 

 

Hoe Jesus Sy taak volbring het

 

    Hy het 12 dissipels gekies om saam met Hom rond te beweeg. Hulle was gewone mense, meestal vissers. Hy het hulle van God geleer en hoe om mense te evangeliseer. Hulle moes daarna voortgaan om die Evangelie aan die wêreld te verkondig, nadat Jesus na die hemel opgevaar het en die Heilige Gees uitgestort is.

 

    Jesus het in die land en ook in die buurlande rondbeweeg. Hy het baie wonderwerke gedoen deur byvoorbeeld mense van hulle siektes te genees. Hy het uit baie mense duiwels uitgedryf.

 

    Hy het ook vir groot menigtes gepreek wat van regoor die land en elders gekom het. Hy het aan hulle vertel wie God regtig is en wat Sy wil vir mense is. Hy het vir hulle gesê om in Hom en die Vader wat Hom gestuur het, te glo.

 

    Jesus het die godsdienstige gebruike van die Joodse volk onderhou. Hy het ook hulle feeste bygewoon. Hy het geweet dat die offers wat mense by die tempel in Jerusalem gebring het, na Hom as die finale offer heengewys het, omdat Hy Sy lewe as offer sou gee. Jesus het geweet dat Hy tydens een van daardie feeste gevange geneem sou word en sou sterf. Hy het geweet (en Hy het dit van ewigheid af – voordat tyd bestaan het – reeds geweet) dat Hy sou moes sterf.

 

O, sterf? Waarom?

Lees die volgende hoofstuk om die antwoord te kry.

 

- - - - - - - - - - - - - -

 

Gids vir die Bybelstudieleier

 

Inleiding:

Waarom, dink jy, het Jesus op die aarde kom woon? Noem minstens drie redes.

Die antwoord is:

 

Hy het gekom om God se wil te doen (Joh 6:38).

Hy het gekom om God te bekend te stel en Sy “gesig” vir hulle te wys (Joh 1:14 en 14:9).

Hy het gekom om ons van God te leer.

Hy het gekom om Sy lewe te gee om vir ons sondes te betaal en ons te verlos.

 

Waarom is dit vir elke mens belangrik om te weet dat hy/sy sondig is?

Antwoord:  Eers dan kan jy die belangrikheid van verlossing, en dus van ’n Verlosser, besef.

 

 

 

Lees:  Jesaja 53:4-6

1.    Kan ’n mens homself verlos? Of kan hy ander mense van hulle sondes verlos? Nee!

Geen mens kan homself of ander mense verlos nie.

Die rede is: Elke mens het verkeerde dinge gedoen en is dus sondig. Mense is hulpeloos en goddeloos (Rom 5:6). Hulle is almal in ’n magtelose posisie. Hulle is almal dood in sonde (Ef 2:1; Kol 2:13) en daarom geestelike lyke.

2.    Kan ons regverdig verklaar word deur goeie werke te doen?

Nee, jou goeie dade sal net bewys dat jou beste pogings nie goed genoeg is nie. In Jesaja 53:4-6 word niks genoem van ’n mens se goeie werke nie. Let op die woorde:  smarte, oortredinge en ongeregtigheid, in hierdie teksverse.

3.    Net Iemand wat self God is, kon die satan oorwin en sy kop vermorsel (Gen       3:15). Let daarop dat geen gewone mens, of die mensdom saam, in staat is     om die satan te oorwin nie.

4.   In Jesaja 53:9, 11 vind ons drie kenmerke van God wat aan Jesus toegeskryf   word. Hyis die volmaak Regverdige (vers 11), slegs Hy het geen onreg           gedoen nie (Hy het nie gesondig nie – vers 9) en Hy alleen kan ander   regverdig maak (vers 11). Hy was die volmaakte Lam van God en dus was       Hy vir die Vader die aanvaarbare offer om die prys vir ons sondes te betaal     (1 Pet 2:22).

God is liefde (Joh 3:16), regverdig (Rom 3:21-26) en Hy wil sondaars red. Die Vader was gewillig om Sy enigste Seun na die aarde toe te stuur om vir ons sondes te betaal. Jesus was ook self gewillig om te kom en te sterf (Ps 40:7-9; Heb 10:5-7).

Die Vader het ons sondes en ongeregtighede op Jesus geplaas (Rom 3:22, 24).

5.    Jy moet aanvaar dat Jesus vir jou sondes betaal het. Jy moet dit met jou hele           hart glo.

6.   Hoe gaan hierdie besluit jou lewe beïnvloed? Gee tyd vir bespreking. (Wees          prakties)

 

- - - - - - - - - - - - - -

 

Notas oor hierdie hoofstuk

 

Die engel Gabriël het Jesus se geboorte vir Josef en Maria aangekondig (Matt 1:18-21; Luk 1:26-38).

Toe Hy gebore is, het engele verskyn (Luk 2:8-14) en ’n ster het vir wyse manne die pad na Hom toe aangewys (Matt 2:1-2).

 

Later het Jesus na Kapernaüm verhuis (Matt 4:13).

Johannes die Doper het vir Jesus gedoop (Matt 3:13-17; Luk 3:21-22; Joh 1:32-34).

Reeds voordat tyd bestaan het, is Jesus met die Heilige Gees gesalf (Ps 45:7-8 en Heb 1:8-9; Hand 10:38).

Die Heilige Gees herinner ons aan Jesus se woorde (Joh 14:26; 16:13).

Jesus het nooit gesondig nie (Jes 53:9; Heb 4:15; 1 Pet 1:19; 2:22; 1 Joh 3:5).

Jesus het mense uit die dood opgewek (Luk 7:11-15, 22; 8:49-56; Joh 11:21, 41-44).

Die offers by die tempel het vooruit gewys na Jesus se offer aan die kruis en Sy dood (Eks 12:3, 7; 1 Kor 5:7).

Jesus het gekom om beide die Ou Testamentiese seremoniële wette en die Messiaanse profesieë te vervul (Matt 5:17).

Mense kan nie ander verlos nie (Ps 49:8; Matt 25:9).

Jesus is die Lig wat mense uit die duisternis verlos (Joh 12:46).

Ons glo deur Jesus in God (1 Pet 1:21).

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

STUDIEGIDS            6.   Waarom moes Jesus sterf?

 

 

    Baie mense en nasies het hulle eie planne, hulle doen wat hulle wil en het hulle eie oortuigings. Dit stem egter nie ooreen met die Ware Openbaring van God nie.

    Mense in baie lande en oor baie eeue heen het hulle eie idees uitgedink oor wie God is en hoe ’n mens met Hom versoen kan word. Hulle het ook hulle eie godsdienste ontwikkel om hulle eie gode te dien.

 

Ø  Jy kan egter seker wees dat God wil hê dat jy Hom in waarheid moet ken.

Hy wil hê dat jy aan Hom moet behoort en elke dag met Hom moet wandel.

Hoe gaan jy hierop reageer?

Gaan jy nou sê:  “Ja, Here!”

God is getrou om jou te antwoord.

 

    Volgens God se ewige plan moes Sy Boodskapper op ’n spesifieke plek en tyd op aarde gebore word. Hy moes vir 33 jaar op die aarde leef. Gedurende die laaste drie jaar daarvan het Hy in die openbaar opgetree.

    Terwyl Hy hier was, het Hy ’n groot taak vervul. Hy wat self God is, moes God ten volle aan mense openbaar.  

    Jy mag dalk vra hoe God ten volle geopenbaar kan word in ’n persoon met ’n menslike liggaam. Die feit is dat mense Hom nou kon sien. Hulle kon genade en waarheid in Hom sien – en daaruit het hulle geweet dat Hy God is.

    Die Bybel sê: Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het Sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy, as die enigste Seun, van die Vader het, vol genade en waarheid.”  (Joh 1:14, NAV)

    Die genade wat hulle gesien het, is bewys deurdat God deur Sy Boodskapper, Jesus, na die mensdom uitgereik het om vir hulle verlossing te bring. God is liefde!  Dit kon ten volle in Jesus gesien word.

    Mense het ook waarheid in Jesus gesien. Dit beteken dat hulle die absolute waarheid in Jesus kon vind. Deur alles wat Hy gesê en gedoen het, het mense besef dat Hy die Ware Openbaring van God is. Niks wat Jesus ooit gesê en gedoen het, het iets sondigs bevat nie.

Wil jy volle genade, liefde en waarheid beleef?

Wil jy seker wees dat jy genade en waarheid gevind het wat eg is en vir altyd sal bly?

Nou weet jy! Deur in Jesus te glo, sal sal jy die regte antwoord kry wat jy nodig het.

Dit was ’n taak!

 

    Was daar dan geen ander manier om versoening tussen God en die mens te bewerkstellig nie as dat Jesus moes sterf?

    Reg aan die begin het God vir Adam en Eva in die tuin van Eden gesê dat as hulle ongehoorsaam aan Sy opdrag sou wees, hulle as gevolg daarvan sou sterf. Weens hulle ongehoorsaamheid en sonde hét hulle toe gesterf en so ook hulle hele nageslag – en daarom moet ons ook sterf. Ons het almal ’n natuurlike neiging geërf om verkeerde dinge te doen – en daarvan moet ons verlos word.

    Jesus se taak was om God se oordeel en vloek oor ons sondes op Hom te neem. Daarom het Hy mens geword en ten volle een van ons geword (maar Hy het nie gesondig nie). So het Hy in ’n posisie gekom waar Hy regverdiglik ons sondes kon dra en in ons plek gestraf kon word.

    Jesus het geweet dat dit ’n geweldige taak was om uit te voer. Hy moes al die sondes van al die mense oor alle eeue heen dra – van die wat in Hom geglo het en nog in Hom sou glo. Geen gewone mens sou dit ooit kon regkry nie. Wat dit nog erger maak, is dat Jesus vooruit geweet het dat Sy Vader in die hemel Homself van Hom (Jesus) sou afskei en Hom vir ’n tyd alleen sou laat. Behalwe dit alles, sou die Vader Hom straf en Sy volle wraak op Hom en die sondes wat Hy moes dra, uitstort.

    Jesus het geweet dat dit met Hom sou gebeur omdat dit in baie Boeke van die Bybel vooruit geprofeteer is. Sy lyding en dood is in die fynste besonderhede voorspel. Jesus het dit alles geweet reeds voordat tyd bestaan het.

 

    Ten volle bewus van wat met Hom gaan gebeur, het Jesus na die Paasfees in Jerusalem gegaan. Gedurende die fees, op die Donderdagaand voordat Hy gevange geneem is, het Hy die nagmaal ingestel, waardeur die gelowiges voortdurend aan Sy dood herinner moes word. Daarna het Hy Sy dissipels deeglik onderrig. Kort daarna is Hy gevange geneem deur Romeinse soldate, wat aangehits is deur die Joodse godsdienstige leiers wat nie in Jesus geglo het nie.

    Daardie nag is Jesus vreeslik geslaan. Hy moes voor die hoëpriester verskyn en daarna voor die die Romeinse goewerneur, Pilatus, en ook voor Herodes. Jesus het deur dit alles heen getrou gebly en geweet dat dit die wil van Sy Vader vir Hom was.

 

    Teen nege-uur die volgende môre, die Vrydag, is Jesus gekruisig. Selfs die manier waarop Hy gesterf het, was deur God vervloek. Lank voor hierdie gebeurtenis het God al gesê: …een wat opgehang is, is deur God vervloek (Deut 21:22-23). Deurdat Jesus aan ’n houtkruis gehang het, was Hy in God se oë in die posisie van ’n vervloekte. Deurdat Hy aan ’n kruis gesterf het, het Jesus die vloek van God op ons sondes gedra en daarvoor betaal.

    Terwyl Jesus aan die kruis gehang het, het Hy sewe uitroepe gemaak:

§  “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”  (Luk 23:34)

§  Jesus het vir Sy moeder gesê: “Vrou, dáár is u seun!” en vir Johannes, die dissipel: “Dáár is jou moeder!” (Joh 19:26-27) Van toe af het Johannes Jesus se moeder versorg.

§  Aan een van die misdadigers wat saam met Hom gekruisig is, het Hy gesê: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees”  (Luk 23:43).

§  Van 12 uur tot 3 uur het duisternis oor die aarde gekom. Direk daarna het Jesus met ’n harde stem uitgeroep: “My God, My God, waarom het U My verlaat?” (Mark 15:34) Hierdie woorde weerspieël die omstandighede waarin Jesus was gedurende die drie ure wat dit donker was. Hy was afgesny van die genade van, en gemeenskap met, God. Terwyl Hy ons sondes en die Vader se veroordeling gedra het, was Hy ook blootgestel aan die magte van die duisternis, die bose, die hel en die duiwel. Maar Jesus het oorwin! Geen gewone mens sou die oorwinning kon behaal nie. Net Jesus, wat God en mens is, was instaat om te oorwin.

§  Daarna het Hy uitgeroep: “Ek het dors!”  (Joh 19:28)

§  Omdat Hy geweet het dat die prys vir ons sondes ten volle betaal is en die toorn van God klaar uitgewoed is, het Jesus uitgeroep: “Dit is volbring!”  (Joh 19:30)

§  Daarna het Jesus uitgeroep: “Vader, in U hande gee Ek My gees oor!” (Luk 23:46) – dit is ’n aanhaling uit Ps 31:6) Toe het Hy gesterf. Dit beteken dat Hy van daardie oomblik af, totdat Hy uit die dood opgewek is, by Sy Vader was.

 

Nota:  Dit was net Jesus se menslike natuur wat deur die dood gegaan het –    Sy Goddelike natuur het lewend en onaangeraak gebly. Die Drie-enige God van die Bybel is ewig.

 

Jesus se kruisdood was werklik ook Sy heerlikheid (Joh 17:1-2). Die rede hiervoor is:

v Dit was in ons plek wat Hy gesterf het, omdat Hy aan die kruis die straf vir ons sondes gedra het. (Lees Jes 53:4-6)

v Deur Sy dood het Hy die wraak van God, in ons plek, op Homself geneem.

v Hy het ons gekoop deur Sy bloed en dood, sodat ons kinders van God kan word.

v Hy het die losprys vir die sondes van al die mense wat van Adam en Eva se tyd af geleef het, van die wat in Hom geglo het en die wat nog in Hom sou glo, betaal.

v Hy het die satan oorwin en ook al die magte wat ons gevange wou hou en hel toe wou neem.

 

Dit is die resultaat daarvan dat Jesus vir ons sondes betaal het.

 

Ø  Hy het ook vir jou sondes betaal.

Hy het gesterf sodat jy vry kan wees van sonde en deur God as Sy kind aangeneem kan word.

Jesus het deur dit alles gegaan om jou te verlos.

Wat is jou reaksie?

Aanvaar jy dankbaar en met blydskap Jesus as jou Verlosser?

 

 

Die Bybel sê: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy Sy enigste

Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie

maar die ewige lewe sal hê.”   Johannes 3:16, NAV

 

 

Gids vir die Bybelstudieleier

 

Inleiding:

   Wat is die idee wat jy van God het? Dink jy soms dat Hy nederig is? Of dink jy miskien aan Hom as ’n vêr-weg God, wat nie in jou belangstel nie?

   Sien jy kans om na Hom toe te kom deur te bid (selfs as jy probleme het) omdat jy dink dat Hy nederig is en dat Hy na jou wil uitreik? Of is jy bang vir Hom?

   Dink jy dalk dat jy net ’n slaaf van God is en dat jy net onderdanig aan Hom moet wees?

   Uit hierdie Bybelstudie sal jy ontdek dat God regtig vir jou omgee.

   Kyk wat Hy gedoen het om jou van sonde te verlos.

 

Lees:  Filippense 2:3-8

   Paulus het hierdie brief aan Jesus se volgelinge in Filippi geskryf. Hy wou hê dat hulle nederig moes wees, soos Jesus. Jesus het God se liefde en waarheid vertoon.

1.    Wat was Jesus se posisie voordat Hy na die aarde toe gekom het en hier gebore is? 

Hy was in die gestalte van God. Dit beteken dat Hy as God geleef het in die hoogste hemele. Wie was Hy?  Filippense 2:6 verklaar dat Hy nog altyd God was en gelyk aan die Vader is. Hy is saam met Sy Vader aanbid. Dit was Sy heerlike posisie. Hy het vanaf Sy posisie aan die regterhand van God die Vader, oor die engele en die heelal geheers (Ps 110:1; Heb 1:13).

2.    Jesus het nie hierdie posisie beskou as iets om aan vas te klou nie, omdat die mense verlossing nodig gehad het. God die Vader was gewillig om Sy enigste Seun (Jesus, die Christus, die Messias) te gee om mens te word en die skuld vir ons sondes te betaal. Jesus was ook self bereid om na die aarde toe te kom en vir ons sondes te betaal. Wat het Hy toe gedoen?

3.    Jesus was bereid om vier stappe van vernedering deur te gaan om ons te verlos

       (vers 7-8):

§  Hy het die gestalte van ’n dienskneg (slaaf) aangeneem, dus nie die gestalte van ’n ryk man nie.

§  Hy het mens geword, dus in alles aan mense gelyk, behalwe dat Hy nooit gesondig het nie (Heb 4:15). Hy het dus ten volle God gebly en het ook ten volle mens geword. As mens het Hy self ons swakhede en versoekings beleef.

§  Hy het Sy lewe gegee. Hy het gesterf.

§  Hy het aan die kruis gesterf, wat die mees vernederende manier van sterf was, omdat dit deur God vervloek is (Deut 21:23; Gal 3:13).

4.    Hieruit verstaan ons wat die term: die gesindheid van Christus, beteken. Ons manier van dink en ons gedrag behoort soos Christus s’n te wees. Dit beteken dat ons in liefde met die Evangelie-boodskap na ander moet uitreik, al sou dit vir ons swaarkry beteken.

Waarom het Jesus dit gedoen? Hy het dit gedoen om die wêreld te red (Joh 3:16) – dit beteken mense uit alle eeue (ook mense uit die Ou Testamentiese tyd) en van alle plekke en kleure. Onthou: net die wat in Jesus glo, word gered. Maar let op: Jesus het ook vir die grootste sondaars gesterf (1 Tim 1:13).

Waarom moet jy vir Jesus dankie sê dat Hy dit gedoen het? Hy het dit gedoen om die straf op ons sondes te dra. Nou kan ons vergewe word en kinders van God word. In plaas daarvan om hel toe te gaan, kan jy nou vir ewig hemel toe gaan en by Jesus en die Vader wees.

5.    Glo jy dit? Gaan jy gehoorsaam wees?

Wees verstandig en maak jou hart oop vir die lewende God. Nooi Jesus in jou lewe in sodat Hy jou God, Here en Verlosser kan wees.

Bely jou sondes aan Hom en draai jou rug op die sonde.

Wat beteken dit prakties vir jou daaglikse lewe?  (Noem voorbeelde)

 

·       Hierdie Bybelstudie vervolg aan die einde van die volgende hoofstuk.

- - - - - - - - - - - - - -

Notas oor hierdie hoofstuk

 

Jesus se openbare bediening het begin toe Hy 30 jaar oud was (Luk 3:23) en het ’n bietjie langer as drie jaar aangehou. Ons lei dit daaruit af dat Jesus vier opeenvolgende paasfeeste bygewoon het (Joh 2:13; 5:1; 6:4; 12:1).

Ons moes as gevolg van ons sondes sterf (Gen 2:17; Rom 5:12).

Genesis 3:15 beteken dat net Jesus, wat self God is, die satan kan oorwin (Rom 16:20). Deur Sy dood het Hy die satan oorwin (Heb 2:14).

God die Vader het Sy Seun gestuur om in ons plek te sterf (Joh 3:16).

Deur Sy dood het Jesus ons met God versoen (2 Kor 5:18; Kol 1:20).

Jesus is vir alle tye die enigste Middelaar tussen God en mense (Joh 14:6; 1 Tim 2:5).

Dit was nog altyd so dat God Sy kinders in Jesus uitverkies het (Ef 1:4), hulle wie se name in die boek van die lewe geskryf is (Dan 12:1; Fil 4:3; Op 13:8; 17:8; 20:12).

Die wat verlos is, is verseker van hulle verlossing omdat die Vader en Jesus hulle bewaar (Joh 10:28-29).

Jesus het van altyd af geweet dat Hy moes sterf en Hy was gewillig om Sy lewe as ’n losprys te gee (Ps 40:7-9; Heb 10:5-10).

Jesus het Sy lewe as offer gegee sodat baie mense gered kan word (Matt 20:28; 26:28; Heb 2:10;  9:28).

Die aand voor Sy dood het Jesus die nagmaal ingestel (Luk 22:14-23) en Hy het Sy dissipels daarna onderrig (Joh 13:31 – 17:26).

Jesus moes voor die hoëpriester en die Joodse Raad (Joh 18:13, 24 – vergelyk Luk 3:2), voor Pilatus (Joh 18:28-29) en voor Herodus (Luk 23:7) verskyn.

Die rede waarom die Jode vir Jesus veroordeel en laat gekruisig het, was dat Hy gesê het dat Hy die Seun van God is (Mark 14:61-64), dat Hy self God is en gelyk aan God die Vader is (Joh 5:17-18; 10:30-33).

Jesus is gegésel en verneder (Ps 22:1-22; Jes 52:13 – 53:10; Mark 14:65; 15:16-20).

Jesus is op die Vrydag om 9 uur gekruisig (Mark 15:25), dus 3 ure na sonsopkoms.

Duisternis het oor die hele aarde gekom van 12 uur tot 3 uur die middag (Mark 15:33) en Jesus het om 3 uur die middag gesterf (Mark 15:37).

Die Heilige Gees het Jesus deur Sy hele lydensweg en dood ondersteun (Heb 9:14; 1 Pet 3:18).

Jesus is die Regverdige (Jes 53:11; Hand 3:14; 7:52) en Hy word ook DIE HERE ONS GEREGTIGHEID genoem (Jer 23:6).

Toe Jesus, die Sondelose, gesterf het, is Hy deur God as sonde vir ons gereken, sodat ons regverdig verklaar kon word (2 Kor 5:21).

Jesus het God se oordeel op Hom geneem (Jes 53:4-11; Matt 8:17; Rom 4:25; 1 Pet 2:24) en in ons plek gesterf (Gal 3:13-14).

Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie (Heb 9;22)

Die Vader het Homself van Jesus afgeskei toe Hy aan die kruis gehang het (Ps 22:2; Mark 15:34).

Deur aan die kruis te sterf, is Jesus in die posisie van ’n vervloekte gestel (Deut 21:22-23; 2 Kor 5:21; Gal 3:13).

Jesus se kruisdood was Sy heerlikheid (Joh 3:14-17; 13:31; 17:1-2, 5; Heb 2:14).

Filippus het aan die hofdienaar gesê dat die Ou Testamentiese profesie van Jesaja 53 in Jesus vervul is (Jes 53:7-8; Hand 8:32-35).

Jesus is die wysheid van God en die algenoegsame Verlosser (1 Kor 1:24, 30).

Die boodskap van die kruis is dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir hulle wat gered word, is dit die krag van God (1 Kor 1:18).

Jesus is die enigste Verlosser vir mense oor die wêreld heen (Joh 1:29; 3:16; 11:51-52; 1 Joh 2:2).

Die mense wat nie Jesus se waarheid in liefde aanvaar nie, is verlore (2 Tes 2:10).

 

Die vaevuur – en gebed vir mense wat reeds gesterf het

 

    Daar is ’n paar kerke wat glo dat ons moet bid vir mense wat reeds gesterf het. Wat beteken dit?

    Eeue gelede het die idee begin posvat dat daar ’n vaevuur bestaan waarheen al die sterwendes gaan wat oor hulle sondes berou het. In die vaevuur word hulle van hulle sondes gereinig en gereed gemaak om daarna die hemel in te gaan. Dit word dan beweer dat die mense op aarde moet bid tot Maria en die ander heiliges in die hemel en by hulle om genade moet pleit vir die mense in die vaevuur.

    Ons moet eerlik wees en besef dat hierdie idee slegs op tradisie gegrond is en onbybels is. Wat is dan die waarheid, volgens die Bybel?

    Eerstens moet ons 1 Petrus 3:18-20 reg begryp, wat soos volg lees:

Want Christus het eenmaal vir die sondes gely… Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak is deur die Gees; in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis, wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God eenmaal gewag het in die dae van Noag…

    Die volgende opmerkings kan jou help om hierdie teksgedeelte te verstaan:

Jesus was aan die hel blootgestel toe Hy aan die kruis gehang het. Hy het uitgeroep: “My God, My God, waarom het U My verlaat?”  (Mark 15:34)

    Hierdie woorde gee ’n aanduiding van die omstandighede wat Jesus deurgemaak het toe Hy aan die kruis gehang het. Om deur die Vader verlaat te wees, beteken dat Jesus aan die hel se magte blootgestel was, dus aan die duiwel en sy gevalle engele. Maar Jesus het oorwin! Sy laaste uitroep aan die kruis was: “Vader in U hande gee Ek My gees oor.”  (Luk 23:46)

    Gedurende die drie dae tussen Sy dood en opstanding was Hy in hades (in Hebreeus: sheool), wat die doderyk aandui. Jesus het ook daarheen gegaan (Matt 12:39-40; Hand 2:27, 31; Rom 10:7; Ef 4:9). Die wat gesterf het, is óf in die Paradys (Luk 23:43) óf in die hel – en hulle kan nie van die een kant na die ander oorgaan nie, soos dit duidelik blyk uit wat Jesus van die ryk man en Lasarus vertel het (Luk 16:19-31).

 

    Wat Jesus gedurende hierdie drie dae gedoen het, word in 1 Petrus 3:18-20 beskryf. Sy optrede nou was deel van Sy triomf en verheerliking. Hy het as Oorwinnaar, as lewende Christus, na die doderyk toe gegaan. (Hou in gedagte dat toe Hy aan die kruis gesterf het, het Sy Goddelike natuur nie gesterf nie.) Hy het aan beide die gehoorsames en ongehoorsames Sy oorwinning aangekondig.

    Jesus was in die Paradys (Luk 23:43) en gedurende hierdie tyd het Hy ook vir die geeste in die gevangenis gepreek (1 Pet 3:19). Hierdie uitdrukking dui die ongehoorsame mense aan wat in Noag se tyd geleef het. Hulle was ’n voorbeeld van mense wat hulleself teen die boodskap van God se genade verhard het (Matt 24:37-39). Die woord geeste dui aan hul liggaamlose bestaan (want hulle liggame het op die aarde agtergebly). Jesus se prediking aan hulle was deel van Sy verhoging en triomf (1 Pet 3:22). Sy opstanding was self ook ’n boodskap aan hulle. (Lees ook Ef 4:8-10)

 

    Tog kan ons aanneem dat toe Jesus die doderyk ingegaan het, Hy vir almal in die doderyk gepreek het, dus vir almal wat reeds gesterf het. Hy het deur die hele hades (doderyk) gegaan en Sy oorwinning vertoon: ’n boodskap van veroordeling aan die ongehoorsames en ’n boodskap van triomf aan die gehoorsames.

    Hou ook 1 Petrus 4:6 in gedagte, wat soos volg lees: “daarom is ook aan die dode die evangelie verkondig.” Om hierdie woorde reg te begryp, moet ons in gedagte hou dat die Evangelie ook aan die Ou Testamentiese mense verkondig is (Heb 4:2, 6).

 

Samevatting:

      Hieruit is dit duidelik dat daar ná iemand se dood geen verandering aan sy toestand teweeggebring kan word nie. Daar is geen vaevuur nie – en gebede kan nie aan dooies gerig word nie.

    Verder is dit duidelik dat Jesus se prediking aan die geeste in die gevangenis nie bedoel was om hulle tot bekering te bring nie. Daar bestaan geen moontlikheid dat gevalle engele of die siele van mense wat reeds gesterf het, tot bekering kan kom nie.

 

Ø   Besef dat dit nou die tyd is om met God reg te maak.

Ø   Nou is dit die tyd om Jesus as jou Verlosser aan te neem.

Ø   Nou is dit die tyd om heilig te lewe.


 

STUDIEGIDS            7.   Van dood na heerlikheid

 

 

Is jy bang om dood te gaan?

Is die dood vir jou ’n verskrikking?

Kan jy daarvan ontsnap?

Verwag jy om vir ewig te lewe?

Sien jy uit daarna om vir ewig by God te wees?

 

     Jesus se dood was nie die einde van Sy lewe nie. Hy is self God en Hy moes sterf om vir ons sondes te betaal. Hy moes deur die dood gaan om dit te oorwin, sodat Hy ons daarvan kon bevry. Dit is wat Jesus gedoen het vir die mense wat in Hom glo.

 

Jesus se opstanding en verskynings

 

    Vroeg die Sondagmôre het ’n paar vroue na die graf toe gegaan. Hulle was van die vroue wat Jesus gedurende die vorige drie jaar gevolg het en Hom en Sy dissipels gedien het.

 

    Wat het hulle by die graf gevind? Die groot klip wat die graf verseël het, was weggerol en ’n engel het by die graf verskyn. Die engel het aan die vroue gesê dat Jesus uit die dood opgestaan het. Toe het die vroue gehardloop om dit aan Sy dissipels te vertel. Later, toe Maria Magdalena by die graf kom, was daar twee engele binne-in die graf.

 

    Die Bybel vertel dat Jesus op daardie Sondag verskyn het en ook gedurende die res van die 40 dae voordat Hy na die hemel toe opgevaar het.

 

    Op die Sondag het Jesus minstens vyf keer aan mense verskyn:

 

1.    Aan die vroue (Matt 28:9-10; Luk 24:10).

2.    Aan Maria Magdalena (Joh 20:11-18).

3.    Aan Simon Petrus, die dissipel (Luk 24:34).

4.    Aan twee gelowiges op die pad na Emmaus (Luk 24:13-35).

5.    Aan die dissipels (Luk 24:36-49; Joh 20:19-23).

 

 

      Gedurende die res van die 40 dae, tot met Sy hemelvaart, het Hy verskyn:

 

6.    Aan die dissipels, met Thomas daarby (Joh 20:24-29).

7.    Aan die sewe dissipels, by die See van Tiberias (Joh 21:1-14).

8.    Aan die elf dissipels en baie ander gelowiges (Matt 28:16-20; 1 Kor 15:6).

9.    Aan Jakobus, die broer van Jesus (1 Kor 15:7).

10.  Aan die dissipels, nadat Jesus hulle na die Olyfberg geneem het, vanwaar             Hy in die hemel opgeneem is (Luk 24:50-52; Hand 1:9-11).

 

    Die volgende is drie definitiewe bewyse van Jesus se opstanding:

§  die oop graf,

§  die aankondiging van die engele, en

§  daar was ooggetuies: Jesus het Homself aan die dissipels vertoon en ook aan 500 van Sy volgelinge wat Sy opdragte gehoor het en getuies van die opstanding was.

 

Die betekenis van Jesus se opstanding

 

    Deur te sterf, het Jesus in die toestand ingegaan waarin ons onsself vir ewig sou bevind het. Ons moes sterf omdat ons gesondig het. Ons moes vir ewig die straf en oordeel van God op ons sondes dra.

    Jesus het in die dood ingegaan en die dood se mag oor hulle wat in Hom glo, gebreek. Dit beteken dat drie groot dinge gebeur het as gevolg van Jesus se dood en opstanding:

v Hy het ons bevry van die begeerte om sondig te lewe en het ons lewens skoon gemaak.

v Hy het ons bevry van die ewigheid in die hel en ons kinders van God gemaak, wat vir ewig by Hom in die hemel sal wees.

v Jesus het verseker dat ons liggame op die oordeelsdag uit die grafte opgewek sal word en dat ons siele en liggame verenig sal word en na die hemel geneem sal word.

 

    So het Jesus die mense wat in Hom glo, van die dood vrygemaak.

    Daarteenoor gaan die wat weier om Jesus as Here en Verlosser aan te neem, die ewige straf tegemoet.

Ø  Wat is jou hartsbegeerte?

Glo jy in Jesus en het jy Hom lief?

Is jy dankbaar vir die groot verlossing wat Hy vir jou bewerk het?

Eer jy Jesus as jou enigste Verlosser?

    Ons geloof is gesetel in Iemand wat self God is, naamlik Jesus Christus, ons Here.

 

    Wat is die bewys dat Jesus self God is? Dit is dat, hoewel Hy dood was, Hy die dood oorwin het en opgestaan het en lewe. Die werklikheid dat Jesus uit die dood opgestaan het, is die bewys dat Hy die ware Verlosser en Here is.

    Deur die geskiedenis heen was daar baie mense wat beweer het dat hulle deur God gestuur is en profete en messiasse is. Voorbeelde hiervan is Boeddha, Confucius en Mohammed. Die feit dat hulle begrawe is en nooit uit die dood opgestaan het nie, bevestig dat hulle nie goddelik was nie en dus nie nagevolg kan word nie. Hulle liggame is steeds in die graf. Die werklikheid is dat nie een van hulle God se Ware Openbaring na mense toe gebring het nie. Hulle moet nie geëer word nie. Net mense wat die waarheid van die Bybel getrou oordra, moet nagevolg word.

 

    Onthou dat Jesus gesê het: “Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Niemand kom by die Vader behalwe deur My nie” (Joh 14:6, vergelyk die Amplified Bible). Dit beteken dat jy slegs deur geloof in Jesus na God toe kan kom en die ewige lewe ontvang. Enige ander persoon wat iets anders leer, moet verwerp word. So was dit van die begin van die skepping af en so sal dit tot die laaste dag toe wees. Jesus lewe – en daarom sal elkeen wat in Hom glo, ook lewe. Elkeen wat Jesus verwerp, sal die ewige straf moet verduur.

    God begeer dat jy nou al ’n nuwe lewe sal hê. Voordat iemand na Jesus toe kom, lei hy ’n lewe van sonde wat na die ewige verderf lei. As jy in Hom glo, het jy die ou lewe verlaat en is jy klaar daarmee. Dan het jy ’n skoon en nuwe lewe, wat aan jou gegee is deur die Verlosser wat opgestaan het.

 

Ø  Miskien is daar nog dinge in jou lewe waarmee jy moet afreken:

Haat jy miskien iemand, of is daar iemand wat jy moet vergewe?

Vloek jy nog?

Gebruik jy die Naam van die Here oneerbiedig?

Dit is dinge waarvan jy ontslae moet raak. Jesus wil in jou lewe verheerlik word.

 

Jesus se hemelvaart

 

    Veertig dae na Jesus se opstanding het Hy met Sy dissipels op die Olyfberg geklim, wat naby Jerusalem is. Jesus het hulle geseën. Terwyl Hy hulle geseën het, is Hy in die hemel opgeneem. Hy het weer Sy ereplek aan die regterhand van die Vader ingeneem. Dit is die ereplek wat Hy reeds van altyd af in die allerhoogste hemel beklee het. Hy het dit net verlaat gedurende die tydperk van 33 jaar wat Hy op die aarde gelewe het.

 

    Hy het in Sy menslike liggaam opgevaar. Hy sal nooit Sy menslike liggaam verlaat nie. Hy is nou in Sy verheerlikte menslike liggaam aan die regterhand van die Vader. Jesus is vir ewig God en mens. Hy is vir ewig een van ons, ons Broer. Waar Jesus nou is, word Hy deur miljoene engele en al die verlostes aanbid – hulle wat in Hom geglo het en reeds gesterf het. Almal van hulle beleef vrede en vreugde by Hom. Deur Jesus is hulle ook by die Vader. Hulle verbly hulle in God se teenwoordigheid. Dit is volmaak heilig!

 

Ø  Jesus begeer dat jy vir ewig by Hom sal wees.

Ø  Is jy bereid om ontslae te raak van jou ou oortuigings en aan Hom alleen vas te hou?

 

 

Alles wat sover bespreek is, bevestig hierdie waarheid:

 

Jesus is self die Ware Openbaring van God.

 

                          - - - - - - - - - - - - - -

 

Gids vir die Bybelstudieleier

 

Inleiding:

   Is daar iemand wat jy bewonder? Miskien ’n sportheld? Hoe het dit jou lewe tot nou toe beïnvloed? Gesels hieroor en wees eerlik.

   In die vorige Bybelstudie het ons na die stappe van vernedering gekyk wat Jesus deurgemaak het. Hy het egter nie in daardie toestand gebly nie. (Hy is nie sommer net ’n held nie. Hy is God!)

 

Lees:  Filippense 2:9-11

1.     Jesus is verheerlik omdat Hy aan Sy Vader gehoorsaam was, selfs tot die dood aan die kruis.

2.     Die Vader het op Jesus se gehoorsaamheid reageer deur Hom op die volgende maniere te vereer:

§  die opstanding uit die dode

§  die hemelvaart

§  deur aan Hom ’n Naam te gee wat bo elke naam is

Dink weer aan die held wat jy bewonder, en weet: Jesus se Naam is oneindig belangriker as enige ander naam.

3.  Jesus Christus is Here!  Dit beteken dat Hy God, Koning en Regter is. Die Vader het alles deur Jesus geskep en heers deur Hom. Jesus is in beheer van die heelal. Hy is God en moet aanbid word.

      Alles sal voor Hom buig, elke engel en elke gelowige en ongelowige mens. Selfs die wat gespot het, sal buig en erken wie Jesus regtig is. (Lees Eks 20:4-6; Op 5:13)

      Die verheerliking van Jesus sal sy klimaks op die oordeelsdag bereik, wanneer elke liggaam wat opstaan met die siel herenig sal word. Dan sal elke volledige persoon moet buig en die oppergesag van Christus Jesus erken.

4.   Verduidelik hoe jy Jesus as Here en Verlosser sal verheerlik, byvoorbeeld:

o   deur die manier waarop jy praat

o   deur hoe jy beplan om jou Sondae deur te bring

Hou die volgende in gedagte:

Ø  Gebruik jy soms die Naam van die Here op ’n oneerbiedige manier?

Sommige mense het byvoorbeeld die gewoonte om dinge soos die volgende te sê: o god, jis, jisis, jsou, jisim. (Sommige gebruik ook die woorde: Jesus, Jesus Christus, Here en God op ’n oneerbiedige manier.)

Wil jy nie ’n wyse besluit neem en ophou om hierdie woorde te gebruik nie? Spreek ook ander aan, as jy hoor dat hulle so praat.

Ø  Bring jy Sondae deur volgens God se bedoeling, naamlik dat dit ’n dag van rus en geestelike verkwikking moet wees? Of geniet jy dan georganiseerde sport of lees jy die koerant? Onthou, Sondag is die dag van die Here (Op 1:10).

5.   Dink aan jou gebedslewe.

6.  Sê nou maar iemand vra vir jou: “Wat moet ek doen om Jesus Christus as         Here te bely?” Watter raad sal jy gee? Dink ná of jy reg in Jesus glo, soos die      Bybel ons leer.    

Hoe sal jou manier van lewe dit weerspieël?

           Romeine 10:9 sê: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart   glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word”.

 

           Glo jy regtig dat Jesus die Here is? Bid nou hieroor.

 

- - - - - - - - - - - - - -

 

 

 

Notas oor hierdie hoofstuk

 

Jesus is uit die dood opgewek (Luk 24:1-7; Rom 8:11; 1 Kor 15:4-8 – en Hand 10:40-41).

Jesus se opstanding is die bewys dat Hy Here en God is (Rom 1:4).

Deur Sy opstanding het Jesus die krag van die sonde en die dood gebreek (Rom 6:4-11).

Al drie Persone in die Drie-Eenheid was betrokke by Jesus se opstanding: Hy is deur die Vader opgewek (Hand 2:24, 32), die Heilige Gees het Hom lewend gemaak (1 Pet 3:18) en Jesus het self Sy lewe teruggeneem (Joh 10:17-18) en uit die dood opgestaan (Joh 2:19).

Dié wat in Jesus glo, sal ewig lewe (Joh 6:40, 47).

Dié wat Hom verwerp, sal vir ewig veroordeel en gestraf word (Joh 3:18, 36 en 5:28-29).

Dié wat in Jesus glo, word geestelik lewend gemaak en van sondes gereinig (Rom 6:4-6; Ef 2:1-3) en hulle moet hulle lewens skoon hou (Ef 2:4-7; 1 Pet 1:15-16).

Jesus het die dissipels geseën en toe na die hemel opgevaar (Luk 24:51; Hand 1:9).

Hy het weer Sy plek aan die regterhand van die Vader ingeneem (Hand 7:55-56; Ef 1:20; Heb 1:3) waar Hy voorheen was (Ps 110:1; Mark 12:35-37; Joh 6:62).

Daar tree Hy op as die ewige Hoëpriester (Heb 4:14-16; 5:5-6; 8:1; 9:24).

Jesus bly ons Broer (Heb 2:11, 17).

Nou word Jesus deur die engele en die verlostes aanbid (Op 4:8-11; 5:11-14).

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

STUDIEGIDS                        8.   Die Heilige Gees

 

 

Die Here dra ons op die hart.

Hy het Sy Seun gegee om ons skuld te dra.

Hy het ook die Heilige Gees gegee om ons van Hom te leer en ons rein en heilig te maak.

 

Die Heilige Gees was van altyd af aktief

 

    Dit is ’n wonderlike waarheid: Elkeen van die drie Goddelike Persone was van altyd af aktief en sal altyd aktief wees. Selfs voor die skepping bestaan het, was Hulle saam aktief besig met die beplanning van die skepping (en dus ook van jou lewe)!

 

    God die Vader het alles geskep deur Sy Seun (Jesus, die Messias) en in die krag van die Heilige Gees. Die skepping word steeds so onderhou en so sal dit vir ewig wees. Dit is duidelik dat die Heilige Gees reeds voor Jesus se geboorte werksaam was.

 

    Selfs in die Ou Testamentiese tyd was die Heilige Gees werksaam in die lewens van die mense wat in die ware God geglo het. Die Heilige Gees het vir die gelowiges geleer dat die Boodskapper, Jesus, ook die Messias is – en dat Hy God, Here, Koning, Priester, Profeet en die Seun van God is – en dat Hy die Een is wat vir hulle sondes sou betaal.

 

    Hieruit is dit ook duidelik dat die Heilige Gees ’n Goddelike Persoon is, wat kennis het en wat in staat is om mense te onderrig.

 

Die uitstorting van die Heilige Gees

 

    Jesus het vir Sy dissipels gesê dat Hy na Sy hemelvaart die Heilige Gees vir hulle sou stuur. Die Heilige Gees sou kom en op ’n wonderlike en spesiale manier in hulle kom woon. Jesus sou die Paraklétos (wat Helper, Leraar en Advokaat beteken) vir hulle stuur. Dit beteken dat die Heilige Gees hulle altyd aan Jesus se woorde sou herinner, hulle in die waarheid sou onderrig en hulle sou help om geestelik te groei. Die Heilige Gees sou gelowiges op ’n spesiale manier aan die Vader en Jesus herinner – en voortgaan om God te verheerlik.

    Die Heilige Gees sou hulle krag gee om getuies van Jesus te wees en Hom aan alle nasies bekend te maak. Daarom het die dissipels en al die ander gelowiges rede gehad om die Heilige Gees se uitstorting vurig af te wag. Hulle het gewag op die vervulling van Jesus se belofte deur voortdurend saam te bid.

 

    Tien dae na Jesus se hemelvaart, terwyl 120 gelowiges saam in die bovertrek gebid het, is die Heilige Gees op hulle uitgestort. In die boek Handelinge word dit soos volg beskryf:

En daar kom skielik uit die hemel ’n geluid soos van ’n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.  (Hand 2:2-4)

 

    Mense van baie nasies wat die Pinksterfees in Jerusalem bygewoon het, het die geluid van die rukwind gehoor. Hulle het by daardie plek saamgekom en gehoor hoe die mense wat in Jesus geglo het in hulle verskillende tale praat, die Here prys en van Hom getuig.

    Die leier van die dissipels, Petrus, het toe die skare toegespreek en 3000 van hulle het in Jesus geglo. Dit was die begin van die tyd waarin die Evangelie, volgens Jesus se laaste opdrag, aan alle nasies oor die wêreld heen verkondig word. So het die Heilige Gees oor die laaste 2000 jaar op ’n spesiale manier teenoor mense oor die hele wêreld heen getuig. Elke mens moet die goeie nuus van Jesus en Sy verlossings-genade hoor. Hulle moet dit aanvaar en in Hom glo. Die mense wat in Jesus glo, ondervind op ’n spesiale manier die vreugde van die Heilige Gees wat in hulle woon.

 

Ø  Dit is wonderlik om vir Jesus te ken.

Ø  Dit is ’n seën dat Sy goeie nuus jou en my bereik het.

Ø  Dit is genade dat die Heilige Gees in harde harte inkom en dit sag maak.

Ø  Dit is ’n vreugde om ’n gelowige, ’n kind van God, te wees.

 

    Met die uitstorting van die Heilige Gees het die laaste fase van die wêreldgeskiedenis aangebreek.

 

Die Heilige Gees berei die bruid voor vir Jesus se wederkoms

 

    Al die kinders van God, al die gelowiges saam, vorm die bruid van Jesus. Die woord bruid beteken dat al God se kinders deur die Heilige Gees voorberei word om in die hemel in te gaan vir die bruilofsmaal wat vir ewig sal duur. Daarom is dit belangrik dat hulle gereed moet wees om die Here Jesus te ontmoet as Hy op die wolke van die hemel terugkom, op die oordeelsdag. Die Heilige Gees oortuig mense om gereed te wees vir die oordeelsdag.

 

    Jesus het vir Sy navolgers belowe dat Hy enige tyd na die aarde toe gaan terugkom. Elkeen moet altyd daarvoor gereed wees. Tog sien ons nie dat baie mense vandag met hierdie verwagting leef nie.

 

Ø  Dit dui aan dat ook jy altyd van Jesus moet getuig.

 

    Jesus sal skielik op die wolke terugkom. Wanneer Hy kom, sal Hy al die engele en al die verlostes (wat reeds gesterf het) met Hom saambring. Die engele sal uitgaan en al die kinders van God oor die wêreld heen versamel. Op daardie oomblik sal ook die opstanding van die dode plaasvind en sal die liggame en siele van die verlostes weer herenig word. Hulle sal opgeneem word in hulle verheerlikte liggame, om Jesus in die lug te ontmoet en dan sal Hy hulle na die Vader toe neem. So sal die vreugdefees begin wat vir ewig sal aanhou.

 

    Die oomblik van Jesus se wederkoms sal egter ook die oomblik van oordeel oor die ongelowiges wees, oor hulle wat Jesus Christus en die Ware Openbaring verwerp het. Hulle sal ook opgewek word. Hulle siele en liggame sal ook herenig word. Dan sal hulle in die poel wat brand met vuur en swael gewerp word. So sal hulle vir ewig die loon ontvang wat wag vir die wat nie in Jesus wou glo nie.

    Miskien vra jy waarom God dit sal toelaat. Die rede is dat God beide regverdig en heilig is. Sy regverdigheid dwing Hom om sonde regverdiglik te straf, maar Sy genade dwing Hom om in liefde hulle wat Jesus as Here en Verlosser aangeneem het, in Sy Koninkryk in te neem.

 

Ø  God is liefde – en Hy wil hê dat jy by Hom moet wees.

Ø  Maak jou hart vir Hom oop, dat jy met jou hele lewe Hom kan dien!

 

    Op die oordeelsdag sal die hele skepping met vuur skoongemaak word van sonde. Die skepping wat skoon en nuut gemaak is, sal vir ewig bestaan. Dit word die nuwe hemel en die nuwe aarde genoem.

 

    Wat ’n vreugde sal dit nie wees om in die ewige heerlike teenwoordigheid van God te wees nie!

- - - - - - - - - - - - - -

Gids vir die Bybelstudieleier

 

Inleiding:

Wie is in beheer van jou lewe?

Dink byvoorbeeld hieroor na: Wie of wat laat jou praat op die manier wat jy praat – en optree op die manier wat jy optree? Is jy gewoond daaraan om mense op te bou, of om hulle te vloek en seer te maak? As dit so is, wie is dan in beheer van jou lewe?

Wil jy ’n lewe hê wat die Here sal verheerlik? Hoe, dink jy, sal dit moontlik wees? Dit sal die moeite werd wees om uit te vind!

 

Lees:  Esegiël 36:25-27

1.      Voordat jy deur God nuutgemaak is, is jou hart vol vuilheid. Jy het ’n hart van klip wat deur sonde verhard is.

2.     God maak jou lewe nuut deurdat die Heilige Gees in jou kom woon. Jy kan tel hoeveel keer die woord Ek in vers 25-27 voorkom.

God gee ’n skoon en nuwe hart. Dit is ’n beskrywing van wat gebeur as ’n mens opnuut gebore word (Joh 3:3-8).

Let op dat God dit ook vir die Ou Testamentiese gelowiges gedoen het.

3.     Die Heilige Gees woon in elke kind van God (Eseg 36:27). Dit beteken dat beide die Vader en Jesus deur die Heilige Gees in gelowiges woon   (Rom 8:9, 11).

4.     Die Heilige Gees word die Trooster (Helper) en die Gees van die waarheid genoem (Joh 14:16-17).

Ø  Die Heilige Gees word genoem Nadergeroepene (Grieks: Paraklétos). Dit beteken dat Hy nader geroep is en dus nader kom om te help, by te staan, te leer, te vertroos en te beskerm. Die Gees van die waarheid beteken: die Heilige Gees leer getrou en korrek aan ons dit wat die Vader en Jesus deur Hom bekend wil maak (Joh 16:13-15).

Dit beteken dat ons die lering van die Heilige Gees in die Bybel heelhartig moet volg om in die wil van God te kan bly. Die hele Ware Openbaring is deur die inspirasie van die Heilige Gees gegee. Die Heilige Gees lei almal wat vir Jesus volg, in die waarheid (Joh 16:13; Rom 8:14).

Ø  Elke mens wat in Jesus glo, het die leiding van die Heilige Gees elke dag nodig. Dink aan verhoudinge by die skool, of werksverhoudinge, of verhoudinge tussen ouers en kinders, keuses wat gemaak moet word – en wanneer en hoe om vir Jesus te getuig.

Jy het die leiding van die Heilige Gees nodig om volgens God se wil en plan vir jou lewe te leef.

5.  Gesels oor hoe die Heilige Gees bedroef kan word deur die manier waarop iemand lewe (Ef 4:30). Die Heilige Gees kan ook uitgeblus word (1 Thes 5:19). God wil hê dat jy altyd met die Heilige Gees vervul moet wees (Ef 5:18) en geestelik moet groei.

6.  Die Heilige Gees is sensitief (gevoelig). Hy kan óf bedroef word, óf jy kan jou hart en lewe vir Sy inwoning en leiding oopmaak en so geestelik groei. Wat is jou keuse?

Ø  Bespreek hoe dit na vore gaan kom, byvoorbeeld:

       in situasies waar ander jou sleg behandel,

        in die tyd wat jy gebruik om die Bybel te bestudeer en te bid.

 

- - - - - - - - - - - - - -

 

Notas oor hierdie hoofstuk

 

Die Heilige Gees is self God – en Hy is ’n Goddelike Persoon (2 Kor 3:17). Omdat Hy ’n Persoon is, verwys ons na Hom as Hy en nie as dit nie.

Ons weet dat die Heilige Gees ’n Persoon is omdat Hy onderrig (Joh 14:26) en dinge weet (1 Kor 2:11), ’n wil het (1 Kor 12:11), ’n doel het (Rom 8:27), bid (Rom 8:26-27), liefhet (Rom 15:30) en bedroef kan word (Ef 4:30). Hy is ook goed (Neh 9:20). Hierdie is almal aanduidings van persoonlikheid, dus van dinge wat net ’n persoon kan doen.

 

Die Heilige Gees is ewig (Heb 9:14) en dit is ’n kenmerk van Sy Godheid.

God die Vader het vir Jesus van altyd af, nog voordat tyd bestaan het, met die Heilige Gees gesalf (Ps 45:7-8; Heb 1:8-9; Hand 10:38).

Die Heilige Gees getuig dat Jesus die Messias/Christus/Gesalfde, God, Seun van God en Koning is (Ps 2:2, 6-7, 2; 45:2, 7-8, 12; Jes 9:5; Dan 9:25-26) en Here en Priester is (Ps 110:1, 4; Sag 6:13). Lees ook Openbaring 1:12-16.

 

Die Heilige Gees was van altyd af aktief (Gen 1:2; Num 11:17, 25; 1 Sam 19:20; Ps 51:13; 104:30).

Die Heilige Gees word gegee deur beide die Vader (Luk 11:13; Joh 14:16; 15:26) en Jesus (Matt 3:11; Joh 20:22).

Die Heilige Gees word genoem: die Gees van Christus (1 Pet 1:11).

 

In die Ou Testament kom die Naam Heilige Gees net drie keer voor (Ps 51:13; Jes 63:10-11), maar die woord Gees kom dikwels voor.

Die Ou Testamentiese profete het deur die Heilige Gees geprofeteer (2 Sam 23:2; Miga 3:8; Sag 7:12; 1 Pet 1:11; 2 Pet 1:20-21).

In die Ou Testament kan daar ʼn stygende lyn gesien word wat uitloop op die uitstorting van die Heilige Gees in die Nuwe Testament. Dit is: 

sug (Num 11:29) – profesie (Joël 2:28-29) – vervulling (Hand 2:1-4, 33).

 

Die Heilige Gees het verskyn in die vorm van ʼn duif (Matt 3:16) en van wind en tonge van vuur (Hand 2:2-3) en Sy werking word met water vergelyk (Joh 4:14; 7:37-39).

Vanaf Sy verhoogde posisie aan die regterhand van die Vader, het Jesus die Heilige Gees gestuur (Luk 24:49; Hand 2:33)

Jesus het veertig dae na Sy opstanding na die hemel opgevaar (Hand 1:3,9). Tien dae daarna het Hy die Heilige Gees uitgestort (Hand 2:33). Hierdie tydperk van 50 dae kom ooreen met die tydperk van 50 dae tussen die paasfees en die oesfees, in die Ou Testament (Lev 23:15-16).

 

Toe die Heilige Gees uitgestort is, was 120 dissipels bymekaar in ʼn huis (Hand 2:2) wat beteken die bovertrek (Hand 1:13), wat waarskynlik ʼn vertrek in die tempel was (Luk 24:53; Hand 5:12).

Die Heilige Gees word genoem: die Gees van die waarheid, omdat Hy aan ons die waarheid in verband met die Vader en Jesus leer  (Joh 16:13-15).

Beide Jesus (in 1 Joh 2:1) en die Heilige Gees (in Joh 14:16, 26; 15:26; 16:7) word die Paraklétos genoem, wat beteken: Helper, Leraar, Trooster en Advokaat.

Die Heilige Gees woon in die opregte Christene (Joh 14:16-23; Rom 8:9, 11), leer hulle (Joh 14:26), lei hulle (Rom 8:14) en gee hulle krag (Hand 1:8).

 

Notas:

Na die uitstorting van die Heilige Gees het die wonderwerke wat plaasgevind het, verder daarvan getuig dat die Ware Openbaring steeds gegee is, byvoorbeeld: sommige mense is deur die apostels genees (Hand 3:6-8; 5:12, 15-16; 9:32-34) en ander is uit die dood opgewek (Hand 9:36-41; 20:9-10 soos dit ook in die Ou Testamentiese tyd gebeur het (1 Kon 17:21-22; 2 Kon 4:34-35). Selfs het sommige diakens wonderwerke gedoen (Hand 6:8; 8:6) en Filippus is deur die Heilige Gees weggevoer (Hand 8:39-40).

 

Die tydperk waarin die Ware Openbaring gegee is, is afgesluit toe die laaste van Jesus se dissipels gesterf het. Die Ware Openbaring is afgesluit toe die boek Openbaring neergeskryf en voltooi is, in ongeveer 95 nC Die skrywer hiervan was die apostel Johannes, wat kort hierna gesterf het.

Die wederkoms van Jesus

 

Voor die wederkoms sal die groot verdrukking plaasvind (Dan 12:1; Matt 24:21-24; 2 Tes 2:3-12).

Die oordeelsdag sal die dag van die vrees van die Here wees (Engels: the day of the terror of the Lord) vir die wat nie in Jesus geglo het nie (2 Kor 5:10-11).

Jesus, ons groot God en Verlosser, sal verskyn (Tit 2:13).

Elke mens sal in die oordeel moet verskyn om van sy dade rekenskap te gee (Jes 45:23; Matt 12:36; Rom 14:10-12; 1 Pet 4:5; Op 20:11-15).

Op die oordeelsdag sal Jesus al die heiliges saambring (Sag 14:5; Matt 25:31; 1 Tes 3:13; 4:13-17).

Op daardie oomblik sal al die liggame van die ontslape gelowiges asook ongelowiges opgewek word (Joh 5:25, 28-29; 1 Kor 15:52; 1 Tes 4:16).

Dit is ook die oomblik wat die eindoordeel sal plaasvind (Matt 25:31-33, 46; Op 14:14-20; 20:11-15).

Die mense wat in Jesus glo, is Sy bruid (Ps 45:2-18; Op 19:7-9; 22:17).

Op die oordeelsdag sal Jesus Sy bruid saam met Hom in die hemel opneem (Matt 24:30-31; 1 Tes 4:17).

Hierdie skepping sal dan deur vuur gereinig word (2 Tes 1:7-8; 2 Pet 3:7, 10, 12) en nuut gemaak word (Rom 8:19-22) om die nuwe hemel en die nuwe aarde te vorm (Op 21:1 – 22:5).

 

Wat beteken dit dat Christus vir ’n duisend jaar sal regeer?

 

    Sommige Christene glo dat Jesus twee maal sal terugkom: eerstens vir die wegraping van die heiliges en tweedens vir die eindoordeel. Wees egter verseker daarvan dat Jesus slegs een keer sal terugkom.

    Die idee van ’n wegraping wat sal plaasvind voor Jesus se tweede koms, berus op ʼn verkeerde verstaan van Openbaring 20:1-6. Daar lees ons dat Jesus vir ʼn duisend jaar op die aarde sal regeer. Ons moet dit soos volg verstaan:

 

§  Die tydperk van 1000 jaar word in die boek Openbaring vermeld. In hierdie Boek kom baie simbole voor en daarom verwys die getal 1000 na ‘n simboliese tydperk van volheid (10 x 10 x 10). Hierdie tydperk het begin by Jesus se eerste koms, dus by Sy geboorte, dood, opstanding, hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees. Dit sal eindig met Jesus se wederkoms, wat op God se bepaalde tyd sal plaasvind.

 

§  Die begin van die duisend jaar is deur engele aangekondig by Jesus se geboorte,toe hulle uit die hemel gekom en gesing het: “Eer aan God in die hoogse hemele en vrede op aarde, in die mense ’n welbehae!” (Luk 2:14) Lees ook Jesaja 9:5-6.

§  In die Bybel word die tyd sedert Pinksterdag die laaste dae genoem (Hand 2:17).

Sedert Pinksterdag moet die Evangelie aan al die nasies verkondig word. Die vreugde van die verlossing wat Jesus aanbied, moet deur mense van alle nasies gedeel word.

§  Die verlossing en vreugde wat in Jesus se Koninkryk beleef word, is nie uiterlik nie, maar binne-in elke gelowige. Jesus het gesê: “…die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie… want die koninkryk van God is binne-in julle” (Luk 17:20-21). Daarom verwys die 1000 jaar na ’n geestelike Koninkryk waaraan al God se kinders deel het, ook in ons tyd.

 

    Hieruit kry ons meer duidelikheid oor die wegraping. Baie Christene glo dat ’n wegraping voor die wederkoms sal plaasvind (dit staan as pre-millenialisme bekend). Volgens hulle beteken die wegraping dat Jesus Christus al die Christene voor die wederkoms sal wegneem hemel toe – en dat hulle daardeur die groot verdrukking sal vryspring.

    Daarteenoor glo sommige Christene dat die duisendjarige ryk na die wederkoms gaan aanbreek (dit staan as post-millenialisme bekend}.

    Hierdie idees is egter nie volgens die Bybel nie. Die gedagte van die wegraping is gebaseer op ʼn verkeerde verstaan van sommige Bybelverse wat lyk asof dit die wegrapings-teorie ondersteun. Die waarheid is egter dat daar geen wegraping voor die wederkoms sal wees nie.

 

    Nota:

    Hier volg ‘n paar notas oor Openbaring 20:1-6.

    Hierin word beskryf hoe die draak, die duiwel, gebind word en dus in sy bose werk gestuit word (vergelyk Luk 10:18). Hy word in die afgrond gewerp. Sy invloed is dus beperk, soos ‘n verwoede hond wat aan ‘n tou vas is. Die duiwel se bose werk is aan bande gele, meer spesifiek deur die triomf van Jesus by Sy kruisiging (toe Hy die duiwel oorwin het) en by Sy opstanding (toe Hy die dood oorwin het). So het die duisendjarige ryk begin.

    Aan die einde van die duisend jaar moet die duiwel losgelaat word (vers 3) en dan breek die tyd van die groot verdrukking aan. Dit sal vir alle gelowiges ‘n tyd van ontsettende smarte wees. Tog sal dit ‘n kort tydjie duur (vers 3).

    Die gelowiges wat gesterf het, heers soos konings saam met Christus in die hemel gedurende die duisend jaar (vers 4). Waar vind die duisendjarige ryk dus plaas? Dit is eerstens in die hemel waar die siele van die verlostes nou saam met Christus regeer (vers 4). Tweedens bestaan dit op die aarde waar die nasies geevangeliseer  word, mense tot geloof in Jesus kom – en waar Sy Koninkryk op elke lewensterrein moet heers.

    Wanneer die ander dode, die ongelowiges (vers 5) sterf, gaan hulle nie die lewe in nie, maar die dood, die duisternis. Na afloop van die duisend jaar sal hulle, met Jesus se wederkoms, voor die troon van God verskyn – en gaan dan, siel en liggaam, die ewige dood in (dit is die tweede dood, vers 6). Daarenteen verskyn die gelowiges ook in die eindoordeel, maar word vrygespreek en gaan (siel en liggaam herenig) die hemel in.

    Die eerste opstanding (vers 5 en 6) dui op die sterwe van die gelowiges. Die dood is vir hulle nie die einde nie, maar ‘n deurgang na die lewe. Die eerste opstanding is die oorgang van die siel vanaf hierdie sondige aarde na God se heilige woning, die hemel. Hieruit kan ons aflei dat die tweede opstanding sou beteken dat by die wederkoms ook die liggaam verheerlik sal word.

 

Wat beteken die getal 144000 in Openbaring 7:4?

 

    Hierdie is ʼn simboliese getal wat die verlostes uit alle tye omvat, ook die wat op die oordeelsdag nog sal leef. Hulle is uit elke stam, taal en volk, en word simbolies aangedui met die name van die twaalf stamme van Israel (Op 7:4-8). Hulle dui die hele kerk, of liggaam van Christus, aan. Hulle vorm die bruid van Christus.

 

    Die getal 144000 word soos volg saamgestel: 3x3x4x4x10x10x10. Die simboliek van hierdie getalle is soos volg:

3 dui simbolies vir God aan;

4 dui die skepping aan (vergelyk Op 7:1);

10 dui volheid en volledigheid aan.  

 

    Hulle is van altyd af deur God uitverkies (Op 13:8; 17:8). Van altyd af is Jesus Christus self die sentrum van ons verlossing (Ef 1:4). Reeds voordat daar so iets soos tyd was, het God die name van Sy kinders in ʼn boek geskryf. Dit word die boek van die lewe genoem (Op 20:12 – lees ook Dan 12:1 en Fil 4:3). Daar bestaan geen moontlikheid dat ’n kind van God verlore kan gaan nie (Joh 10:28-29).

    Hulle is nie uitverkies omdat hulle beter is as ander mense nie, maar sodat hulle heilig sal lewe (Rom 8:29; Ef 1:4).

 

    Jy kan seker wees dat jy ook uitverkies is, as die Heilige Gees in jou woon en as jy glo dat Jesus jou Verlosser is, ja, jou enigste Verlosser is.

 

Wat is die slag van Armagéddon?

 

    Met Jesus se wederkoms sal Hy met al Sy heiliges terugkom (dit is die engele en die verloste mense wat vroeër gesterf het). Op daardie oomblik sal die slag van Armagéddon plaasvind (Op 16:16) met die leër van die hemelse engele aan die een kant en die leër van satan se magte aan die ander kant. Hierdie groot slag sal waarskynlik in die lug plaasvind, nie op die aarde nie. Die hemelse leër sal oorwin.

 

Wat is die “nuwe Jerusalem”?

 

    Dit is nie ʼn plek of stad êrens op aarde nie.

    Met Jesus se wederkoms sal die aarde en die hele fisiese skepping (die son, maan en sterre) deur vuur gereinig word. Dan sal die skepping nuut en skoon gemaak word. Die nuwe hemel en nuwe aarde sal hieruit voortkom.

    In Openbaring 21:1 – 22:5 vind ons die beskrywing van die nuwe Jerusalem wat op die nuwe aarde sal neerdaal. Dit is ’n  simboliese beskrywing. Almal wat in Jesus glo, sal deel hiervan uitmaak. Die nuwe Jerusalem sal uit Jesus se bruid, die kinders van God, bestaan (Op 21:2, 9-10). Die nuwe Jerusalem sal nie tot een plek op die aarde beperk wees nie.

 

Ø  God wil hê dat jy deel daarvan sal wees.

Hy wil hê dat jy vir ewig by Hom sal wees.

Hy wil hê dat jy skoon gewas sal wees van jou al sondes – dit maak nie saak wat jy tevore verkeerd gedoen of geglo het nie.

Hy wil hê dat jy in Jesus moet glo en heilig moet lewe.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

STUDIEGIDS                      9.   Die Christelike lewe

 

 

Om ’n kind van God te wees, beteken dat jy ’n nuwe lewe ontvang het.

Die Heilige Gees het in jou kom woon.  

Dit beteken dat die Vader en Jesus nou deur die Heilige Gees in jou woon.    

 

    Wanneer die Heilige Gees in jou kom woon, word jy opnuut gebore. Dit beteken dat jy ’n nuwe geestelike lewe ontvang. Die eerste keer is jy uit jou ouers gebore en die tweede keer uit God. Dit is die rede waarom jy vir God Vader kan noem.    

 

   Dit gebeur wanneer die Heilige Gees in jou lewe die verlossing toepas wat Jesus verdien het toe Hy aan die kruis gesterf het. Daar het Hy die straf vir jou sondes gedra en die ewige lewe vir jou verwerf. Al wat jy moet doen, is om Hom aan te neem, in Hom te glo en jou van jou sondes te bekeer. Van daardie oomblik af kan jy weet dat jy ’n kind van God is.  

 

   Kyk wat sê die Bybel: “Maar aan almal wat Hom (Jesus) aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy Naam glo” (Joh 1:12).

 

Ø  Dit is ’n wonder wat in ’n mens se lewe gebeur.

Ø  Dit is ’n gawe wat jou bewondering opwek.

Ø  Dit is ’n vreugde om God as jou Vader te ken.

Ø  Dit is ’n seën dat jou sondige lewe nuut gemaak is deur die Heilige Gees.

Ø  Dit is ’n vreugde om heilig voor God en voor mense te lewe.

Ø  Dit is ’n vreugde om te weet dat Jesus jou Koning is.

Ø  Hieruit weet jy ook dat jy in die ewigheid saam met jou Verlosser sal wees!

 

Groei in volwassenheid

 

    Nadat jy ’n kind van God geword het, moet jy geestelik groei. Dit is net soos met die natuurlike geboorte. As ’n kind gebore word, verwag mense dat hy tot volwassenheid sal groei. Die Bybel leer ons dat God wil hê dat Sy kinders tot volwassenheid sal groei, deur die krag van die Heilige Gees.

    Om te kan groei, het jy voeding nodig. Daar is ’n aantal dinge wat jou sal help om te groei. Dit is byvoorbeeld belangrik dat jy daagliks jou Bybel lees en dit toegewyd en biddend bestudeer.

 

    Gebed moet tot die Vader gerig word, in die Naam van Jesus Christus. Dit beteken dat ons slegs deur Jesus toegang het tot die Vader.

 

    Jy moet ook die saamwees met ander gelowiges geniet. Om dit te illustreer, kan jy ’n stuk hout as voorbeeld neem. Dit is byna onmoontlik dat dit op sy eie sal brand. Maar as ’n klomp stukke hout saamgepak en aan die brand gesteek word, sal dit maklik brand en vir ’n lang tyd aanhou brand. As baie kole bymekaar is, kan vir ’n lang tyd warm bly.

    As jy deel van ’n gemeenskap van gelowiges word, word jy verwelkom en deur die werk van die Heilige Gees in hulle lewens opgehef. Jy word ook versterk as die Bybel verduidelik en bespreek word. Die geloof in Jesus word saam beoefen. God word ook verheerlik deur die gesamentlike sang, gebed en aanbidding.

 

    Die Bybel leer ons hoe die kerk moet funksioneer. Nadat die Heilige Gees uitgestort is, het Jesus se dissipels (leerlinge), wat ook apostels (uitgestuurdes) genoem is, uitgegaan om die Evangelie te verkondig. Hulle het gemeentes georganiseer, oral waar mense tot geloof in Jesus gekom het. Dit beteken dat leiers gekies is en deur hulle aangestel is. Daar was leraars, ouderlinge en diakens. Hulle was verantwoordelik vir die welstand, lering en versorging van die lidmate van die gemeente. Elke gemeente het die taak gehad om die Evangelie aan ander in die omgewing en verder te verkondig.

    Selfs vandag nog gaan Christene oor die wêreld heen voort met hierdie taak. Die woord Christen beteken: navolger van Jesus Christus, die Verlosser. Christene is Sy getuies deur dit wat hulle sê en hoe hulle leef.

 

    Voordat Jesus in die hemel opgeneem is, het Hy gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.”  (Matt 28:18-20)

Ø  Hoe kan iemand wat van sondes verlos is, stilbly?

Ø  Hoe kan iemand sien dat baie mense sonder Jesus verlore gaan en nie vir hulle omgee nie?

Ø  Hulle moet vertel word van Jesus en die verlossing wat Hy aanbied!

 

    Dit is duidelik dat ’n opregte Christen, ’n verloste kind van God, geen verkeerde ding in sy lewe mag toelaat nie. Die Here moet in jou verheerlik word. Leef heilig. Die woord heilig beteken dat jy van die sondige wêreld afgesonder is en aan God toegewy is.

v Om meer prakties te wees: Wat beteken dit om heilig te lewe? Kyk na hierdie voorbeelde:

Ø  ’n Heilige lewe beteken dat jy sal probeer om nie die Naam van die Here op ’n oneerbiedige manier te gebruik nie.

Ø  ’n  Ander voorbeeld is hoe mense aantrek. Sommige mense probeer altyd om die nuutste mode na te volg, soos dit op TV of in tydskrifte verskyn. Dink liewer daaraan dat die Here wil hê dat ons ons liggame op ’n waardige wyse moet bedek. Oordink ook die volgende vrae:

Waarom trek mense dikwels so oneerbiedig aan op strande?

Wie is die mense wat die modes vir swemklere ontwerp?

Waarom moet hulle nagevolg word?

 

Ø  Jy sal moet probeer om nie toe te gee aan die rookgewoonte en die gebruik van sterk drank en dwelms nie. 

Ø  Probeer om nie toe te gee aan groepsdruk nie. Probeer liewer om positief vir God te lewe en laat ander jóú volg.    

    Laat die Heilige Gees toe om jou lewe elke dag te beheer. Dit beteken dat jy elke dag met die Heilige Gees vervul moet wees.

    Namate jy geestelik groei, sal die vrug van die Gees meer sigbaar word in jou lewe. Dit beteken dat jou lewe liefde, vreugde en vrede sal uitstraal.

    Jou lewe sal ook oop wees vir die gawes van die Heilige Gees. Dit beteken dat die Heilige Gees ʼn kind van God bekragtig en toerus vir ’n spesifieke taak en doel. Dit kan vergelyk word met ’n  menslike liggaam met oë, ore, ’n neus, ’n maag, voete ens. Elke liggaamsdeel het ’n unieke funksie om te verrig ten einde die hele liggaam in staat te stel om doeltreffend te funksioneer. In ’n gemeente sal sommige die gawe van lering en prediking hê, terwyl ander die gawe van sorg en omgee het.

    Die Here wil jou gebruik vir ’n unieke taak in Sy liggaam, Sy kerk, op aarde. Geniet die gemeenskap met medegelowiges en gee jouself vir die opbou en groei daarvan!

Ø  Hoe wonderlik is dit om te sien dat iemand tot volwassenheid groei.

Ø  Hoe wonderlik sal dit wees as jy deel daarvan is.

Ø  Hoe wonderlik is dit om te weet dat God verheerlik word.

Ø  Prys en dank Hom vir wat Hy, in Sy genade en liefde, vir jou gedoen het.

    Voordat jy Jesus ontmoet het, sou jy die ewige smarte moes deurmaak, maar toe jy Jesus aangeneem het, is jy vrygemaak en het jy verlossing en vreugde ontvang, wat vir altyd sal duur.

    Dit is wat gebeur met elkeen wat in die Ware Openbaring glo, wat Jesus aan ons gegee het. Hy is ook self die Ware Openbaring.

- - - - - - - - - - - - - -

 

Gids vir die Bybelstudieleier

 

Inleiding:

Om werklik vir God te kan lewe, moet jy jou ou manier van lewe laat staan.

Noem ’n paar dinge wat jy sal moet laat staan.

Jy sal moet breek met verkeerde godsdienstige oortuigings, met spesifieke sondes, met verkeerde verhoudinge ens.

 

Lees:  Efesiërs 4:17-24

1.     Jy kan enige iets kies uit vers 17-19.

2.     Die ou mens verwys na iemand wat nog nie vir Jesus as Here van sy lewe aangeneem het nie. Die nuwe mens is iemand wat Jesus met sy hele hart volg.

3.     Jy moet ’n definitiewe besluit neem om jou ou lewe af te lê en jou met die nuwe lewe in Christus te beklee. Wees beslis in hierdie opsig.

Ø  Gebruik jou verstand. Wees eerlik. Tree op soos die Heilige Gees jou oortuig.

4.     ’n Baba moet groei, anders is daar 'n groot fout. Net so moet iemand wat ’n kind van God geword het, geestelik groei, anders is daar ’n groot fout. God wil hê dat elkeen van Sy kinders tot geestelike volwassenheid moet groei. Dit beteken dat jy sal groei in jou kennis van die Bybel, in liefde vir God en vir ander, om te weet hoe om altyd reg op te tree en hoe om vir Hom te getuig en ander te onderrig.

5.     Jy sal geestelik kan groei as jy altyd met die Heilige Gees vervul is (Ef 5:18). Dit beteken om vir Sy leiding oop te wees en om aan Hom gehoorsaam te wees. Lewe onder Sy beheer, wat beteken dat jou lewe die uitwerking daarvan sal vertoon (in teenstelling met iemand wat onder die invloed van sterk drank lewe – Ef 5:18).

Die vrug van die Gees sal daaruit voortspruit (Gal 5:22-23), asook die gawes van die Gees. Jou lewe sal waarheid en liefde uitdra. Jy sal vol blydskap wees en ’n vervulde lewe hê.

6.     ’n  Mens moet altyd in die Naam van Jesus tot die Vader bid (Matt 6:9; Joh 15:16).  Jesus is ons Advokaat (1 Joh 2:1) en Hy is die enigste Weg na die Vader (Joh 14:6). Ons kan ook vir Jesus direk vra (Joh 14:13-14; 1 Joh 5:14-15).

7.     Sluit aan by ’n evangeliese kerk. Neem deel aan die Bybelstudie-programme en betoon respek aan elke prediker wat die Bybel in waarheid verkondig. Beoefen die vrug van die Gees.

      Gesels oor hoe julle dit gaan doen. Noem praktiese voorbeelde.

 

- - - - - - - - - - - - - -

 

Notas oor hierdie hoofstuk

 

Iemand word deur die Heilige Gees opnuut gebore (Joh 3:3-8).

Die Here wil hê dat alle mense hulle moet bekeer (Spr 24:11; Eség 33:11; Luk 15:1-32; Ef 4:17-19; 1 Tim 2:4; 2 Pet 3:9).

Almal wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word (Joël 2:32; Hand 2:21; Rom 10:13).

Jesus klop. Laat Hom in!  (Op 3:20)

Jesus sal nooit iemand wat na Hom toe kom, wegwys nie (Joh 6:37).

Die kern van sonde is om nie in Jesus te glo nie (Joh 16:8-9).

Jy moet in Jesus glo (Hand 16:30-31), jou van jou sondes bekeer (Hand 3:19; 26:20) en ’n  skoon en heilige lewe lei (Rom 6:22; 1 Thes 4:3, 7; Heb 12:14).

Omdat God heilig is (Lev 11:44; 19:2; 20:26) moet jy ook heilig wees en ’n  skoon lewe hê.

Jy kan doen wat die Efesiërs gedoen het: Hulle het ’n groot vuur gemaak en die boeke wat heidense praktyke soos heksery bevorder het, verbrand (Hand 19:18-20).

Jy moet tot geestelike volwassenheid groei (Ef 4:13).

Wees altyd met die Heilige Gees vervul (Ef 5:18).

Neem deel aan die saamwees met ander wat in Jesus glo (Ef 4:11-16; Heb 10:25).

Jy mag die Naam van die Here nie oneerbiedig gebruik nie (Eks 20:7; Lev 19:12; Matt 5:33-37).

Moenie uitlokkende klere aantrek nie (1 Tim 2:9; 1 Pet 3:3).

Moenie toegee aan seksuele versoekings nie (Gen 39:1, 7-12; 1 Thes 4:3-8) en ook nie aan groepsdruk nie (Dan 1:3-8, 18-20; Matt 5:13-16).

Die vrug van die Gees moet in ons lewens sigbaar wees (Gal 5:22-23).

Sommige gawes van die Gees sal funksioneer (Rom 12:4-8; 1 Kor 12:4-11; Ef 4:11).

So sal God die Vader en Jesus verheerlik word (Rom 16:25-27; Ef 3:14-21).

Die regverdige sal uit die geloof lewe (Hab 2:4; Rom 1:17; Gal 3:11; Heb 10:38).

’n Ware Christen is iemand wat die waarheid ontdek het (Joh 14:17) en wat uit die duisternis na die lig gekom het (Joh 12:46; Hand 26:18; Kol 1:12-14) en wat van die Bose bewaar word (Joh 17:15).

Dié wat in Jesus glo, word deur die waarheid geheilig (Joh 17:19).

Jesus maak waarlik vry (Joh 8:32, 36) en Hy gee aan ’n gelowige die oorwinning (1 Joh 5:4-5).

Net die minderheid van die mensdom sal gered word en hemel toe gaan (Matt 7:13-14; 22:14).

Jesus het mense van die hemel en die hel vertel (Matt 25:34, 41; Mark 9:43-48; Luk 16:22-26; Joh 3:36; 14:2-3; lees ook Jes 66:24).

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

STUDIEGIDS                              10.   Die Bybel

 

 

    Die Ware Openbaring van God is iets waarvan ons absoluut seker kan wees. Die rede daarvoor is dat hierdie openbaring neergeskryf is en dat ons vandag steeds alle besonderhede daarvan het.

    Hierdie openbaring is deur meer as 40 skrywers oor ’n tydperk van ongeveer 1500 jaar neergeskryf. Die boek waarin dit vervat is, word die Bybel genoem. Die Bybel bestaan uit twee dele: die Ou Testament wat die Ware Openbaring bevat wat voor die geboorte van Jesus gegee is; en die Nuwe Testament wat die Ware Openbaring bevat wat ná die geboorte van Jesus gegee is.

 

    Die Ou Testament bestaan uit 39 Boeke en die Nuwe Testament uit 27. Die Ou Testament is oorspronklik in Hebreeus (en ’n klein gedeelte in Aramees) geskryf en die Nuwe Testament in Grieks.

    Die Nuwe Testament is deur sommige van Jesus se dissipels geskryf, asook deur ander wat ooggetuies van Jesus se lewe op aarde was.

    Na Jesus se hemelvaart het Hy aan Paulus verskyn, wat ’n apostel geword het. Paulus het briewe aan gemeentes en leraars geskryf en die briewe wat behoue gebly het, is ook in die Nuwe Testament ingesluit.

 

    Die Ou en Nuwe Testament stem in alle opsigte ooreen in verband met al die besonderhede van die Ware Openbaring, hoewel dit deur verskillende skrywers en oor baie eeue heen geskryf is. Dit bewys dat die ware God met elk van die Bybelskrywers gepraat het.

    Die hele Ware Openbaring is deur die Vader gegee, deur Jesus wat dit geopenbaar het, en deur die krag van die Heilige Gees. Dit bevestig dat dit die waarheid bevat en vir alle tye geldig is.

 

Hoe is die Bybel geopenbaar?

 

    In die Ou Testament is die Ware Openbaring aan baie profete gegee, byvoorbeeld aan Moses, koning Dawid en Jesaja.

    Dit is belangrik om te weet hoe die Ware Openbaring aan hulle gegee is. Kyk na hierdie interessante inligting:

Toe sê Hy: Hoor tog My woorde. As julle profeet van die HERE is, sal Ek deur ’n gesig My aan hom bekend maak, deur ’n droom sal Ek met hom spreek.   (Num 12:6)

    Hieruit is dit duidelik dat die Spreekbuis (Boodskapper) van God Homself in visioene (of gesigte) aan die profete geopenbaar het, elke keer wat Hy met hulle gepraat het. Dus het die profete van die Ou Testament vir Jesus, God se Boodskapper, baie goed geken.

    Kyk wat God sê in verband met Sy openbarings aan Moses: “Mond tot mond spreek Ek met hom, en deur aanskouing en nie deur duister woorde nie; en hy sien die verskyning van die HERE” (Num 12:8). Hieruit weet ons dat Jesus Homself op ’n wonderlike manier aan Moses geopenbaar het en van aangesig tot aangesig met hom gepraat het. Dit het dikwels en oor ’n lang tydperk gebeur.

 

          (Nota:  Die term mond tot mond beteken dieselfde as van aangesig tot                      aangesig – vergelyk Num 12:8, in die New King James Version.)

 

    Eksodus 34:5 sê: “En die HERE het neergedaal in die wolk en daar by hom gestaan. En Hy het die Naam van die HERE uitgeroep”. Dit was die Boodskapper van God wat in ’n visioen verskyn en met Moses gepraat het. Daar, en tydens ander verskynings, het Hy die Ware Openbaring in fyn besonderhede aan Moses gegee. Moses moes dit neerskryf. Dit is waar die eerste vyf Boeke van die Bybel vandaan kom.

    Die Ou Testamentiese profete het naby ontmoetings met Jesus gehad wanneer Hy profesieë aan hulle gegee het. In die boek Amos word gesê dat Hy soos ’n brullende leeu gepraat het. Hieruit weet ons hoe die profete hulle inligting gekry het en dat hulle oorweldig was deur die Persoon van Jesus. Die Boodskapper en Sy boodskap het vir hulle baie duidelik geword.

 

    Hierdie profesieë is oor ’n lang tydperk aan die profete gegee. Die profeet Jesaja het byvoorbeeld oor ’n tydperk van 40 jaar profesieë ontvang. Dus het hy Jesus baie goed leer ken en het hy geweet dat die profesieë oor Jesus se geboorte, Sy aardse bediening en Sy dood gehandel het – oor ’n Goddelike Persoon wat as die Kneg van die HERE bekend staan.

    In die boek Jeremia vind ons dikwels, soms meer as tien keer in een hoofstuk, uitdrukkings soos: “Die HERE sê…” en: “Die woord van die HERE het tot my gekom.” In verband met Jesus se woorde sê hy: “…en U woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart…”  (Jer 15:16)

 

    Die hele Ware Openbaring is deur die krag van die Heilige Gees gegee. Dit beteken dat die openbaring duidelik was en met gesag en in absolute waarheid gegee is. Dit bly ook vir altyd waar. Daarom weet ons dat God se openbaring oor Homself, Sy verlossing en Sy doel vir ons lewens, altyd dieselfde bly, net soos wat die Bybel sê.

    Jesus, die Woord (Spreekbuis) van God, het ’n bevel gegee en die skepping het tot stand gekom. Deur dieselfde krag het Hy ook elke woord van Sy Ware Openbaring gegee. Hierdie werklikheid beklemtoon die krag en finaliteit van God se openbaring in beide die Ou en Nuwe Testament.

 

    Ons moet ook die eenheid tussen die Ou en Nuwe Testament as van groot belang beskou. Die rede hiervoor is dat beide Testamente deur dieselfde Outeur, naamlik Jesus, die Spreekbuis van God, gegee is. Jesus is ook die Boodskap van beide Testamente, want beide verkondig dat Hy die Seun van God en ons Verlosser is. Die Heilige Gees het beide Testamente geïnspireer, soos Paulus in sy brief aan Timoteus skryf:

Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid.  (2 Tim 3:16)

 

    Niks mag by die Bybel, die Ware Openbaring, bygevoeg word nie – en niks daarvan mag weggelaat word nie.

 

Messiaanse profesieë

 

    In die Ou Testamentiese tyd het profesieë dikwels by die volk Israel voorgekom. In geen ander godsdiens se geskiedenis kom daar profesieë voor nie. Profesieë is God se openbaring van Homself en van Sy wil in verband met die huidige omstandighede – en dit kan ook voorspellings oor toekomstige gebeure insluit. Die waarheid daarvan word bewys deurdat dit presies net so vervul moet word.

 

    Die profesieë in die Ou Testament wat oor Jesus se geboorte en Sy aardse bediening handel, word Messiaanse profesieë genoem. Dit beteken dat Jesus die beloofde Messias is wat in die Ou Testament aangekondig is.

 

    In die Ou Testament kom daar 332 duidelike voorspellings voor wat letterlik in Jesus Christus vervul is. (Josh McDowell, Evidence That Demands a Verdict, Volume 1, bladsy 175-176.) Die werklikheid dat al hierdie Ou Testamentiese profesieë in Jesus vervul is, bewys die waarheid van die openbaring.

 

    Die Messiaanse profesieë in die Ou Testament is deur verskillende profete oor ’n tydperk van meer as duisend jaar neergeskryf. Dit is almal in een Persoon vervul gedurende die 33 jaar wat Hy op aarde geleef het. Die voorspellings dat Hy as Koning sal regeer, is nog steeds besig om vervul te word – en die profesieë oor Sy wederkoms sal nog vervul word. Hierdie Persoon is werklik die Messias, ons Here Jesus Christus!

 

    Hier volg voorbeelde van Messiaanse profesieë:

 

Voorspelling

Vervulling

Gebore uit die saad van ’n vrou

En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar Saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal Hom in die hakskeen byt.

Genesis 3:15 – vergelyk die NKJV

Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God Sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou, gebore onder die wet.

Galasiërs 4:4

Saad van Abraham

En in jou sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na My stem geluister het.

Genesis 22:18

Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy Saad... dit is Christus.

Galasiërs 3:16 – vergelyk die NKJV. Lees ook Matteus 1:1

Uit die stam van Juda

Die septer sal van Juda nie wyk nie…  totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.

Genesis  49:10

Jesus… die seun van Juda…

Lukas 3:23, 33. Lees ook Matteus 1:2 en Hebreërs 7:14

Uit die geslag van Dawid

Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ’n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen...

Jeremia 23:5

Jesus… die seun van Dawid…

Lukas 3:23, 31. Lees ook Matteus 1:1

Gebore in Betlehem

En jy, Betlehem Efrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ’n Heerser in Israel sal wees; en Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.

Miga 5:1

En toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is ...

Matteus 2:1. Lees ook Matteus 2:3-8

Hy word Here genoem

Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan My regterhand, totdat Ek U vyande maak ’n voetbank vir U voete.

Psalm 110:1

 

…dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.

Lukas 2:11. Lees ook Lukas 20:41-44

Hy sou Jerusalem op ’n donkie binnery

Verheug jou grootliks, o dogter van Sion!  Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ’n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ’n esel – op ’n jong esel, die vul van ’n eselin.

Sagaria 9:9

 

…en hulle lê hul klere op die vul en laat Jesus daarop sit. En terwyl Hy voortgaan, gooi hulle hul klere oop op die pad. En toe Hy al naby die afdraand van die Olyfberg kom…

Lukas 19:35-37

Sy hande en voete sou deursteek word

…hulle het My hande en My voete deurgrawe.

 

Psalm 22:17 – vergelyk die NKJV

En toe hulle op die plek kom wat Hoofskedel genoem word, het hulle Hom daar gekruisig…

Lukas 23:33. Lees ook Johannes 20:25

 

Hy sou dors ly

…en vir my dors het hulle my asyn laat drink.

Psalm 69:22. Lees ook Psalm 22:16

...het Jesus gesê: Ek het dors! En daar het ’n kan vol asyn gestaan...

Johannes 19:28-29. Lees ook Matteus 27:34

 

Sy hemelvaart

U het opgeklim na die hoogte…

 

Psalm 68:19

En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ’n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.

Handelinge 1:9

 

 

    Kom ons kyk na die hele spektrum van profesieë: Daar is meer as 2000 spesifieke profesieë in die Bybel wat reeds tot in die fynste besonderhede vervul is. Dit is verstommend in die lig van die feit dat daar geen soortgelyke profesieë in die geskrifte van enige ander godsdiens voorkom nie.

    Die Bybelse profesieë is neergeskryf en in honderde gevalle is dit eers later vervul. Die profete was geensins in ’n posisie om die uitkoms te beïnvloed nie. Die profesieë is in die fynste besonderhede gegee en dit moes in die fynste besonderhede vervul word. Die profesieë kon nie maar net blote gissings wees of vaagweg gegee wees nie, want dit het gehandel oor dinge wat nie eintlik moontlik was om ooit vervul te word nie. Die profesieë het presies die teenoorgestelde voorspel van wat mense normaalweg verwag het.

 

    Die Bybelse profesieë is in die fynste besonderhede vervul (behalwe dié oor die wederkoms van Jesus). Sal jy iets soortgelyk in enige ander godsdiens kan vind?

    Ook in die Nuwe Testament kom profesieë voor. Dit is ook deur Jesus gegee en in die krag van die Heilige Gees. Soos in die Ou Testament, het Hy die skrywers oortuig dat hulle moes neerskryf wat Hy vir hulle gesê het.

 

    Die vervulling van hierdie profesieë bewys dat die twee Testamente wel ’n eenheid vorm. Die verhouding tussen die twee Testamente kan as belofte-vervulling beskryf word. Die Ou Testament wys heen na die Nuwe Testament en die Nuwe Testament verklaar die Ou Testament.

 

Ø  Die Bybel is betroubaar.

Ø  Jy kan dit ’n leeftyd lank bestudeer.

Ø  Jy kan jou geloof en vertroue daarin stel.

Ø  Die doel vir jou lewe kan daarin gevind word.

Ø  Jou hoop vir die ewigheid kan daarop gebasseer word.

Ø  Jou lewenswyse moet met sy lering ooreenstem.

Ø  Jy kan jou lewensdoel verwesenlik deur dit aan ander te leer.

 

Beide Jesus en die Bybel kan die Ware Openbaring genoem word:

 

*  Jesus is die Woord van God wat mens (vlees) geword het.

*  Die Bybel is die Woord van God wat neergeskryf is.

 

v Jy mag dalk vra hoe sommige van die huidige wêreldgodsdienste verskil van die Ware Openbaring. Dit word in die volgende boeke in Die Ware Openbaring – reeks behandel.

 

- - - - - - - - - - - - - -

 

 

Gids vir die Bybelstudieleier

 

Inleiding:

    Miskien glo jy dat ’n ander boek as die Bybel ’n heilige geskrif is. Oor watter boek (of boeke) voel jy so? Dalk is dit die Koran (van die Moslems), of die Vedas (van die Hindoes), of die Pali Canon (van die Boeddhiste) ens.

   Waarom beskou jy dit as heilige geskrifte? Dalk is dit omdat dit die tradisie van jou voorouers was, of omdat baie mense van jou volk (of van baie volke) so glo, of omdat die boek se inhoud op ’n bonatuurlike manier aan die stigter of profeet van daardie geloof gegee is.

Ø  Jy gaan nou ontdek waarom die Bybel werklik die ware Heilige Skrif is.

 

Lees:  1 Petrus 1:10-12

1.     Die profete het die tyd nagevors wanneer die verlossing deur die Messias, Jesus Christus, verwerf sou word. Jesus en Sy Koningskap en verlossing is die sleutelboodskap wat die Heilige Gees aan die Ou Testamentiese profete oorgedra het.

Selfs in die Ou Testamentiese tyd het die Heilige Gees in die profete gewoon – en ook in elkeen wat in die Messias geglo het (Gen 41:38; Num 27:18; Ps 51:13; Eseg 36:25-27; Miga 3:8). Die Heilige Gees was toe reeds die Gees van Christus (1 Pet 1:11).

2.     Die profete het die lyding voorspel wat Jesus moes deurmaak (byvoorbeeld Sy kruisiging), asook Sy verheerliking (opstanding en hemelvaart).

Let op dat die profete besef het dat hierdie dinge met die Messias sou gebeur, die Messias wat hulle deur Sy verskynings in visioene leer ken het (Num 12:6-8; Jes 6:1-3).

Jesus was nog altyd die Spreekbuis (Woordvoerder, Boodskapper, Profeet, Woord) van God. In die Ou Testamentiese tyd het Hy deur die Heilige Gees met die profete gepraat, net soos Hy later met die skrywers van die Nuwe Testamentiese boeke gepraat het.

Die profete van die Ou Testament (net soos die skrywers van die Nuwe Testament) het nie hulle eie idees verkondig nie. Hulle is deur die Heilige Gees beweeg, gedryf, gedring en geleer.

Ø  Al die Boeke van die Bybel is deur die Heilige Gees geïnspireer (letterlik:  deur God geasem – 2 Tim 3:16). Hulle bevat dus die waarheid en moet geglo word.

3.     Die Heilige Gees het aan die profete geopenbaar dat hulle lesers op die uitkyk moes wees vir die koms van die Messias wat op die aarde sou kom ly en ook verheerlik sou word.

In die tyd wat die profeet Habakuk geleef het, is wagtorings op die stadsmure gebou as uitkykpunte om te sien wanneer hardlopers of perderuiters met nuus aankom. Net so het Habakuk gewag om te sien en te hoor wat God aan hom sou openbaar (Hab 2:1).

Let daarop dat Jesus gesterf het vir die sondes van mense wat oor alle tye geleef het, dus ook vir die Ou Testamentiese mense se sondes. Jesus is God en daarom word die betekenis van Sy lyding en kruisdood nie deur tyd beperk nie. (Tyd is deel van die skepping.) God is bo tyd verhewe.

4.     Jy moet die Bybel bestudeer, want jy moet weet wat God aan jou wil sê. Jy kan ook ’n lys maak van dinge wat jy tot nou toe geglo het en wat teenstrydig is met die Ware Openbaring. Maak dan daar langsaan ’n lys van dinge wat met die Ware Openbaring ooreenstem en skryf dan neer dat jy nou hierdie waarhede glo en daarvolgens sal lewe. Vertel vir ander daarvan (en lees Spr 24:11 en Eseg 33:11).

5.     Bespreek hierdie punt. Jy moet jou ouers eer, want hulle sorg vir jou en oefen gesag oor jou uit. Dit sal jou help om jou aan God se gesag en sorg te onderwerp.

- - - - - - - - - - - - - -

 

Notas oor hierdie hoofstuk

 

Om Jesus te ken, is die sleutel wat die ware betekenis van die Ou Testament oopsluit (Luk 11:52). In hierdie teksvers kom die term sleutel van die kennis voor.

Die woord kennis verwys hier na die Ou Testament. Wat is die sleutel wat hierdie kennis oopsluit? Vir die mense van die Ou Testament, en ook as vir ons, is die sleutel om Jesus te ken en te verstaan dat Hy die Boodskapper en die Boodskap van die Ou Testament is.

 

Die Ou en Nuwe Testament bevat dieselfde boodskap en dit is deur dieselfde Outeur gegee (Heb 4:2, 6).

Jesus, die Spreekbuis van God, het in visioene aan die profete verskyn, elke keer wat Hy profesieë aan hulle gegee het (Num 12:6-8; Jes 6:1 en Joh 12:41; Eseg 1:1; Hos 12:11) en daarom het al die profete vir Jesus baie goed geken.

Die Gees van Christus was in die profete (1 Pet 1:11) wat geprofeteer het (1 Pet 1:10-12).

Hulle het vanaf God gespreek (2 Pet 1:21, volgens die oorspronklike teks).

Al die Boeke van die Bybel is deur God (2 Tim 3:16), dus deur die Heilige Gees, geïnspireer (Num 11:17, 25; 2 Pet 1:19-21; Op 1:9-10). Lees ook 2 Kon 3:15.

Die Gees van die Here het deur die profete gespreek (Eseg 11:5; Sag 7:12; Hand 28:25).

Die profete Jesaja en Habakuk het albei gestaan en wag om te hoor wat die Here vir hulle wou sê (Jes 21:8; Hab 2:1).

Die openbaringe wat God aan die profete gegee het, was vir hulle soet en kosbaar (Jer 15:16; Eseg 3:1, 3), maar soms was die betekenis en toepassing daarvan baie moeilik (Op 10:9-10).

Jesus, die Spreekbuis van God, het soos ’n brullende leeu gepraat (Amos 3:8 – lees ook Joël 3:16; Amos 1:2; Op 5:5).

Die profete was verskrik en het gebewe (Jes 66:2; maar lees ook Eseg 2:8 – 3:3).

Ons moet ook bewe vir Sy Woord. Daarom moet ons weet dat dit die waarheid is en dat ons eendag ooreenkomstig ons geloof en gehoorsaamheid aan die Woord geoordeel sal word.

 

God se woorde was in Jeremia soos ’n verterende vuur (Jer 20:9; 23:29) en soos ’n hamer wat ’n rots vermorsel (Jer 23:29).

Die Woord van God is lewend en kragtig (Heb 4:12; 1 Pet 1:23).

Die Woord van God is ewig (1 Pet 1:23, 25).

Die Bybel bly altyd dieselfde (Ps 119:89; Matt 5:18; 24:35).

Jesus, as die Openbaarmaker van God, het met God se skrif op die twee kliptafels geskryf (Eks 34:28; Deut 10:4).

Die wet is deur engele gegee (Deut 33:2; Gal 3:19; Heb 2:2) van wie Jesus die vernaamste is (Hand 7:30; 35, 38).

Jesus het op die berg aan Moses verskyn (Eks 34:5) en God se boodskap aan hom oorgedra en hom toe beveel om dit neer te skryf (Eks 34:27 – lees ook Eks 17:14; 24:12; 31:18; 32:15-16; 33:11; Num 33:2; Deut 9:10-11; 31:9, 24).

In die tabernakel het Jesus, die Boodskapper (Woord) van God, van die versoendeksel af met Moses gepraat (Eks 25:22; Lev 1:1) en Sy stem het tussen die twee gérubs weergalm (Num 7:89). Die gérubs was die twee engele wat met goud oorgetrek was en wat op die versoendeksel gestaan het (Eks 25:19-20; 37:8). Die Here het onsigbaar getroon tussen die gérubs op die versoendeksel (1 Sam 4:4; 2 Sam 6:2).

God het met Job uit ’n storm gepraat (Job 38:1; 40:1).

God het ook deur die Urim en Tummim gepraat met die hoëpriester Aäron (Moses se broer) en sy opvolgers (Eks 28:30; Lev 8:8; Num 27:21; Deut 33:8; Rig 1:1; 1 Sam 28:6; Esra 2:63; Neh 7:65).

Dawid het soms ’n skouerkleed om hom, of die priester, gewerp wanneer hy God se leiding gesoek het (1 Sam 23:9; 30:7).

Jesus het gesê dat Moses oor Hom geskryf het (Joh 5:46 – lees ook Deut 18:15-19).

Toe Jesus op aarde was, het Hy in die hemel ingekyk en Sy Vader hoor praat (Joh 3:11; 32; 5:19-20; 8:38; 12:49-50). Net Jesus het die Vader gesien (Joh 6:46).

Al die Boeke van die Bybel is in opdrag van God neergeskryf (Jer 36:2, 28; Op 1:19).

Jesus word die Woord van God genoem (Op 1:19).

Koning Dawid het God se Woord liefgehad (Ps 119:97).

Ooggetuies van Jesus het sommige Boeke van die Bybel geskryf (Hand 1:1, 21-22).

Jesus het aan Paulus verskyn (Hand 9:3-6; 1 Kor 9:1; 15:8).

Paulus het die kentekens van ’n apostel van Jesus Christus gehad (2 Kor 12:12).

Die apostel Paulus het die Ware Openbaring van God ontvang (Hand 9:3-6; 1 Kor 2:10-12; 11:23; 2 Kor 12:4; Gal 1:11-12, 15-16). God het in hom gespreek (2 Kor 13:3). Dit geld ook vir die apostel Petrus (2 Pet 1:14).

Om die Bybel reg te verstaan, moet jy dit nie op jou eie manier uitlê nie (2 Pet 1:20). Die Bybel moet homself verklaar, dus moet jy elke teks met die res van die Bybel vergelyk.

Dinge in die Bybel wat ons nie verstaan nie, moet ons aan God oorlaat (Deut 29:29).

Ons mag nie iets by die Woord van God byvoeg nie (Deut 4:2; 12:32; Spr 30:6; Jer 26:2).

Net in Jesus en Sy Woord is waarheid en verlossing te vind (2 Tim 3:16-17).

 

In teenstelling met bogenoemde: (Hou dit ook in gedagte terwyl jy die volgende boeke in Die Ware Openbaring-reeks bestudeer.)

Die satan is ’n gevalle engel (Op 12:3-4) en is dus ’n persoon.

Satan, die duiwel, is ’n moordenaar, in hom is geen waarheid nie en hy is die vader van leuens (Joh 8:44).

Satan is die heerser van die wêreld (Joh 14:30), maar hy is oorwin en veroordeel (Joh 12:31; 16:11).

Satan is die prins van die bose magte in die lug (Ef 2:2; 6:12).

Satan is die god van hierdie wêreld wat mense se geestelike oë verblind (2 Kor 4:4).

Satan verander homself in ’n engel van die lig (2 Kor 11:14).

Sommige mense wil ’n ander Jesus verkondig (2 Kor 11:4) en hulle is vervloek (Gal 1:8).

Sommige is valse profete (Matt 24:5, 11, 23-24).

Mense is geneig om agter valse leerstellings aan te gaan (2 Tim 4:3-5).

 

Tradisie en die Bybel

    In sommige kerke het, deur die eeue heen, tradisie in sekere opsigte belangriker as die Bybel geword. Voorbeelde hiervan is die volgende (en lees verder hieroor: James A Beverley, Nelson’s Illustrated Guide to Religions, hoofstuk 12 en 14):

1.               Die apostel Petrus is almeer beskou as die eerste hoof van die kerk van Jesus Christus op aarde – en dat ’n reeks pouse hom sou opvolg. Hierdie oortuiging is gegrond op Jesus se woorde aan Petrus: “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek My gemeente bou…”  (Lees Matt 16:18-19)

Antwoord hierop:  Om hierdie woorde van Jesus reg te verstaan, moet ons na Petrus se woorde in vers 16 kyk: “U (Jesus) is die Christus, die Seun van die lewende God.” Hierdie woorde is ’n samevatting van opregte geloof in die ware God. Dit is logies dat Jesus na hierdie belydenis van Petrus verwys het as die rots waarop Hy Sy kerk sou bou. Hierdie gesigspunt word ondersteun deur Jesus se opmerking teenoor Petrus (in vers 23). Verder word Jesus ook die rots genoem, in 1 Korintiërs 10:4. Net Jesus alleen is die Hoof van Sy kerk – en nie die pous nie. Paulus skryf:

…soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam (Ef 5:23). En Hy (Christus) is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente…  (Kol 1:18)

Die gevolg hiervan is dat die pouslike instelling as onbybels beskou moet word.

 

2.     Kyk na wat baie mense in verband met Maria glo:

 

·                  Maria het deurgaans ’n maagd gebly, en daarom word sy genoem: die Maagd Maria.

Antwoord hierop:  Die Bybel sê dat Josef en Maria na Jesus se geboorte nog ander seuns (naamlik Jakobus, Joses, Judas en Simon) en ook dogters gehad het (Matt 13:55-56; Mark 6:3).

 

·                  Maria word genoem: die Moeder van God (of: Teotokos).

Antwoord hierop:  Maria was moeder van Jesus se menslike natuur, nie van Sy Goddelike natuur nie.

 

·                  Gebede moet gerig word aan die Maagd Maria. Gebede aan Maria vorm ’n sentrale element in die rosekrans – en gebede aan haar speel ’n kernrol in die mis en in feesdae wat tot eer van haar gehou word. Hierdeur word sy tot goddelike status verhef.

Antwoord hierop:  Jesus leer ons in die Onse Vader-gebed dat die Vader in die gebed aangespreek moet word (Matt 6:9). Gebede moet tot die Vader gerig word, in die Naam van Jesus (Joh 14:13-14; 15:16). Jesus het vir ons sondes gesterf en daarom bewys God genade net aan hulle wat in Hom glo. Ons moet slegs deur Jesus in God glo       (1 Pet 1:21). Om Maria aan te roep, beteken in werklikheid om die dooies op te roep. Dit word in die Bybel verbied (Deut 18:10-12). Nêrens in die Bybel word gesê dat die afgestorwenes, wat in die hemel is, vir ons bid nie. Die gebede van die heiliges (Op 8:3-4) verwys na gebede van gelowiges op aarde.

 

·                  Maria is sonder sonde (of erfsonde) gebore. (Dit staan bekend as: die onbevlekte ontvangenis van Maria.)

Antwoord hierop:  Romeine 3:23 sê: “…almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” Ook sê Psalm 53:4 en Jesaja 53:6 dat alle mense gesondig het – en dit sluit Maria in. Die enigste manier hoe Maria en ander mense nou in die hemel kan wees, is dat Jesus vir hulle sondes gesterf het en dat hulle dit geglo het.

Maria was sondig, net soos alle ander mense, en daarom mag sy nie vereer of aanbid word nie. Mense mag nie beelde van haar maak nie omdat die Bybel verbied dat beelde van mans of vroue aanbid mag word (Deut 4:16, 23-24).

 

·                  Maria se liggaam het nie gesterf nie. Sy is direk in die hemel opgeneem. (Dit staan bekend as: die hemelvaart van Maria.)

Antwoord hierop:  Die Bybel praat van twee mense wat in die hemel opgeneem is, naamlik Henog, ’n man wat met God gewandel het (Gen 5:24; Heb 11:5) en die profeet Elia (2 Kon 2:11). Die bewering dat Maria na die hemel sou opgevaar het, word nêrens in die Bybel geleer nie.

 

·                  Maria dien as middelaar om ons verlossing te bewerk. Sy het daartoe bygedra deur haar gehoorsaamheid, geloof, hoop en betoning van liefde in die Verlosser se taak om bonatuurlike lewe in mense se siele te herstel. Daarom is sy vir ons ’n moeder in die beoefening van genade. Sy word selfs genoem:  die hemelkoningin.

Antwoord hierop:  Die Bybel sê dat net Jesus die Middelaar tussen God en mense is. 1 Timoteus 2:5-6 sê: “Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ’n losprys vir almal…”

Jesus is die Hoëpriester wat vir ons bid (Rom 8:34; Heb 4:14-16; 9:24) en die Heilige Gees bid ook vir ons (Rom 8:26; vergelyk Joh 14:16).

Jesus is ons Trooster (Parakleet) in die hemel (1 Joh 2:1) en Hy berei vir Sy kinders plek in die hemel (Joh 14:2-3).

3.     Die Heilige Gees word net deur God die Vader gegee – en nie deur Jesus nie. (Dit is die Ortodokse Kerk se standpunt.)

Antwoord hierop:  Die Heilige Gees word gegee deur beide God die Vader (Luk 11:13; Joh 14:16; 15:26) en Jesus (Matt 3:11; Luk 24:49; Joh 1:33; 15:26; 16:7, 14; 20:22; Hand 2:33; Tit 3:5-6).

 

Samevatting:

Hierdie voorbeelde wys hoe gevaarlik dit is om tradisie belangriker as die Bybel te beskou. In werklikheid moet ons die Bybel toelaat om verkeerde idees reg te stel. Die Bybel moet die enigste bron van waarheid wees om dwaalleer te bestry (2 Pet 1:19-21).

 

- - - - - - - - - - - - - -

 


Bronnelys

 

 

Life Application Study Bible  (New International Version)

Living Bible  (Uitgewers:  Tyndale House Publishers. 1971)

Modern Language Bible   (1969)

New Spirit-filled Life Bible  (New King James Version)

The Amplified Bible

The Bible  (New King James Version)

The Scriptures  (1998)    ISBN 0-620-22490-8   E-pos:  isr@messianic.co.za

 

Hier volg slegs ’n aantal Engelse bronne. Afrikaanse

en Nederlandse boeke is ook gebruik.

 

Borland, James A            Christ in the Old Testament. (Subtitle:) Old Testament Appearances of Christ in human form. Mentor series. Christian Focus Pub. 1999

Calvin, John                    Institutes of the Christian Religion. Vertaal deur Henry Beveridge. W.M.B. Eerdmans Publishing Co. 1998

Haasbroek, Danie           Die Wonder van Jesus in die Ou Testament. DH Trust. 2008

Dokument op hierdie webblad:  www.truervn.com

Haasbroek, Danie            Kernbegrippe in verband met Jesus in die Ou Testament.                                DH Trust. 2011 Dokument op hierdie webblad:                                                      www.truervn.com

Hodgkin, A M                  Christ in all the Scriptures. Marshall Pickering. 1907

Kennedy, D James          Why I believe. Word Publishing. 1980

Laetsch, Dr Theo              Bible Commentary: The Minor Prophets. Concordia Publishing House. 1956

Lewis, Jonathan              World Mission. An analysis of the world Christian Movement, Deel 1 – 3. Tweede Uitgawe. William Carey Library. 1994

Lockyer, Herbert              All the Messianic Prophecies of the Bible. Zondervan Publishing House. 1973

Pink, Arthur W                  Gleanings in Exodus. Moody Press. 1981

Young, Edward J             The Book of Isaiah, Volume 1-3. William B. Eerdmans Publishing Company. 1972

Young, Edward J             The Prophecy of Daniel. William B. Eerdmans Publishing Co. 1970

Comments